Nuus 07:00
BULLETIN 14 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die eerste weermagsoldate is terug van die DRK
# President Ramaphosa sê mense moet nie in vloedgeteisterde gebiede bou nie
# En rugby: Die Bulle pak ‘n sterk span van Leinster
# Die regering het 249 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag by Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria verwelkom na hul ontplooiing na die Demokratiese Republiek die Kongo. Die minister van Verdediging, Angie Motshekga, en weermagamptenare het die soldate ontvang, wat gisteraand ná verskeie vertragings weens logistieke en tegniese probleme aangekom het . Motshekga het hul toewyding aan vrede en streeksbestendigheid geprys. Sy sê dit was ‘n emosionele oomblik toe die terugkerende soldate die grond gesoen het:
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se hoof van Gesamentlike Operasies, Siphiwe Sangweni, sê intussen nege vlugte word beplan om soldate teen die einde van die maand uit die DRK terug te bring – mits daar nie verdere tegniese oponthoude is nie. Sangweni sê as groter vliegtuie gebruik word sal dit die aantal vlugte verminder:
# President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners gevra om nie huise in vloedvatbare gebiede te bou nie. Ramaphosa het tydens ‘n besoek aan Mthatha in die Oos-Kaap, waar vloede minstens 78 lewens geëis het, gesê om in gevaarlike gebiede te bou, plaas gesinne in groter gevaar. Die president vra ook strenger maatreëls om gemeenskappe teen toekomstige rampe te beskerm. Hy sê die regering sal die skade beraam en die betrokke gemeenskappe ondersteun:
Die stigter van Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman werk intussen saam met die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement om ‘n uitbreking van diarree in Butterworth te beheer. Sooliman is bekommerd omdat daar nie water en elektrisiteit in die area is nie. Hy sê die organisasie het watertenkers, warm etes, komberse en ‘n sterk kragopwekker gestuur na hospitale wat geraak word. Voedselverspreiding sal ook na drie-duisend porsies per dag verhoog word. Hy het ook bevestig dat hulle forensiese spanne bystaan:
# Irak het ‘n klagte ingedien by die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad oor Israel se beweerde skending van sy lugruim tydens ‘n groot aanval op Iran. Die ministerie van Buitelandse Sake in Irak sê die praktyk is ‘n blatante skending van Irak se soewereiniteit. Hy vra die Veiligheidsraad om sy verantwoordelikhede na te kom en stappe te doen om nog sulke oortredings te verhoed. Die Irakse regering het Israel se militêre aggressie teenoor Iran veroordeel en bestempel dit as ‘n blatante skending van die basiese beginsels van internasionale reg.
# En rugby: Min mense dink die Bulle gaan vandag in Dublin hond haaraf maak in die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Leinster, onder leiding van die voormalige Springbok-afrigter Jacques Nienaber. Die Bulle se afrigter, Jake White, het vroeër gesê die gasheerspan bestaan uit Ierse toetsspelers, die All Black Jordie Barrett op senter, met die dubbele Wêreldbekerwenner RG Snyman en die Franse toetsspeler Rabah Slimani op die bank. Die huidige Bok-afrigter, Rassie Erasmus, sê spelers moet onthou hulle kan Bok-erkenning kry as hulle vandag goed speel. Afskop is vanaand om ses-uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….