Nuus 16:00
BULLETIN 13 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Senior offisier van die polisie se Misdaadintelligensie-afdeling vas oor sekswerker-inbraakskandaal
# Trump waarsku Iran om ‘n ooreenkoms te bereik voor dit te laat is
# En krieket: Suid-Afrika het 282 lopies nodig om tot toetskampioen gekroon te word
# Die finansiële hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-afdeling, Philani Lushaba, is in hegtenis geneem oor ‘n skandaal in 2022 toe ‘n sekswerker na bewering sy amptelike vuurwapen en skootrekenaar gesteel het. Twee ander senior Misdaadintelligensie-beamptes is aangekeer omdat hulle na bewering gehelp het om die voorval te verdoesel. Lushaba, wat homself vandag in Pretoria oorgegee het, word ook ondersoek oor ‘n eiendomskandaal van 81-miljoen-rand in verband met onreëlmatige besteding aan eiendomme. Daar is voorheen berig hy het verdwyn terwyl die Nasionale Vervolgingsgesag voorberei het om hom te ondervra.
# Die DA sê van die ondernemings in die Johannesburgse sakekern betaal meer as tien-duisend-rand per dag vir diesel om kragopwekkers in te span tydens voortdurende kragonderbrekings. Die party het tydens ‘n toesigbesoek bevind sekere ondernemings is byna twee weke sonder krag, wat bedrywighede beïnvloed en werksverliese kan veroorsaak. Die DA-lid, Tyrell Meyers, skryf dit toe aan City Power se versuim om infrastruktuurprobleme en kabeldiefstal aan te pak:
# AfriForum het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ‘n aansoek by die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, en die provinsiale Departement van Paaie en Vervoer ingedien om antwoorde te eis rondom die koste, tydsduur en doel van nuwe nommerplate vir die provinsie. Louis Boshoff van AfriForum waarsku die plan kan ‘n duur las word met min voordele. Hy bevraagteken die dringendheid daarvan en verwys na groter infrastruktuurmislukkings:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Iran aangemoedig om ‘n ooreenkoms te bereik en waarsku daar sal meer lewensverlies en verwoesting wees ná Israel se dodelike aanvalle op sy kerngeriewe. Hy het op sy Truth Social-platform geskryf daar is nog tyd om die slagting te beëindig, maar waarsku die volgende aanvalle, wat reeds beplan is, sal veel erger wees. Trump sê Iran moet ‘n ooreenkoms sluit voordat daar niks oor is nie en voor dit te laat is.
# Krieket: Suid-Afrika kort 282 lopies om as Wêreldtoetskampioen gekroon te word. Die Proteas het op die derde oggend gesukkel om Australië uit te boul in sy tweede beurt op Lord’s in Londen. ‘n Vennootskap van 59 lopies om die laaste paaltjie tussen Josh Hazlewood en Mitchell Starc het die Protea-boulers eindeloos gefrustreer. Starc het sy elfde toets-vyftigtal aangeteken en Australië se beurt het geëindig op 207 nadat Aidan Markram uiteindelik van Hazlewood ontslae geraak en ‘n einde gebring het aan ‘n moeilike oggendskof vir Temba Bavuma se span.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-74-sent teen die euro en 24-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-157-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-426-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….