Nuus 13:00
BULLETIN 13 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kommissaris Masemola sê die polisie oorweeg om 10-duisend konstabels en sersante na hoër range te bevorder
# Minister Ntshavheni sê die regering monitor die nuwe Covid-19-variant in dele van Asië
# Die padwedlope: Meer as 10-duisend atlete word verwag vir die Mandeladag-stap- en draftog in Johannesburg
# Die nasionale polisiekommisaris, Fannie Masemola, sê tussen 2018 en 2023 is meer as 57-duisend polisiebeamptes tot hoër range bevorder. Masemola het op ‘n nuuskonferensie in Pretoria verwys na die voorkeure rondom menslike hulpbronne in die polisie. Hy sê die polisie oorweeg in hierdie boekjaar die bevordering van tien-duisend konstabels en sersante wat reeds meer as elf jaar hul huidige range beklee. Masemola sê ‘n bykomende duisend adjudant-offisiere kan moontlik ook na ‘n hoër salarisskaal bevorder word:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering monitor die ontwikkeling van ‘n nuwe Covid-19-variant, Nimbus, wat in dele van Asië aangemeld is, noukeurig. Sy verseker die publiek alhoewel die variant nie in Suid-Afrika opgespoor is nie, bly die Departement van Gesondheid waaksaam. Ntshavheni het die publiek versoek om kalm te bly, maar versigtig te wees en basiese gesondheidsmaatreëls toe te pas:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte waarsku die publiek oor vervalste lisensies wat deur onetiese verskaffers van gesondheidsprodukte gebruik word. Die woordvoerder, Yuven Gounden, sê hierdie vervalste dokumente verteenwoordig ‘n ernstige gevaar vir openbare gesondheid en veiligheid. Daar is ook kommer oor die toename in dagga-verspreiders wat onregmatig aanspraak maak op bemagtiging. Gounden moedig die publiek aan om lisensies op die owerheid se webwerf of deur amptelik kanale na te gaan, en oortreders met regstappe.
# Padwedlope: Vanjaar se Mandeladag-stap- en -draftog word op 19 Julie op die Wanderers-stadion in Johannesburg gehou. Meer as tien-duisend deelnemers sal na verwagting aan drie afstande deelneem. Die roete is dié wat wyle oudpresident Nelson Mandela gereeld in Houghton gestap het. Die uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, Mbongiseni Buthelezi, het aan eNCA gesê die geleentheid is ter herinnering aan sy nalatenskap van eenheid en diens. :
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-604-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-422-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-8-sent per vat.
# En laastens, die Vergelegen Estate White 2023 is as die beste Suid-Afrikaanse witwyn gekroon op die gesogte 2025 Internasionale Wynuitdaging. Die kompetisie, wat wêreldwye aansien geniet, het die wyn van Somerset-Wes in Kaapstad geprys vir sy elegansie, minerale karakter en lewendige geure. Besturende direkteur Wayne Coetzer sê Vergelegen se oorwinning beklemtoon die uitnemendheid van plaaslike wynmakers en vestig Suid-Afrika op die wêreldwynverhoog. Hy sê die toekenning is ‘n huldeblyk aan die span se passie en toewyding vanaf wingerd tot bottel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….