Nuus 17:00
BULLETIN 12 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet dui voorkeure aan om misdaad, onwettige vuurwapens en korrupsie aan te pak
# Egipte keer honderde pro-Palestynse aktiviste in Kaïro aan voor hul opruk na Gaza
# En rugby: Marco van Staden vervang die beseerde Cameron Hanekom in die Bulle se opdrafspan vir die VRK-eindstryd
# Die kabinet sê misdaadbestryding kry steeds voorkeur en hy fokus op die vermindering van moord, die beperking van onwettige vuurwapens, en die stryd teen georganiseerde misdaad en korrupsie. Dit volg op kritiek dat die regering nie ‘n daadwerklike plan het om misdaad te bestry nie. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die kabinet het dit ook verwelkom dat die sluipmoordenaar wat betrokke was by die moord op die ANC-raadslid Sindiso Magaqa van KwaZulu-Natal in 2017, skuldig gepleit het:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het die Appèlhof se uitspraak verwelkom wat die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se appèlaansoek in die Nulane Beleggings-bedrogsaak handhaaf. Die uitspraak herroep waarnemende regter Nompumelelo Gusha se ontslag van die agt beskuldigdes in 2023, insluitend Iqbal Sharma en voormalige Vrystaatse amptenare. Die Appèlhof het ’n herverhoor voor ’n ander regter gelas. Die NVG se woordvoerder, Mthunzi Mhaga, sê dit baan die weg om voort te gaan met die vervolging van hoëprofiel-korrupsiesake wat met staatskaping verband hou:
# Egiptiese owerhede het talle pro-Palestynse aktiviste in Kaïro aangekeer voor ‘n beplande internasionale optog om deur Israel se blokkade van Gaza te breek. Die optog se woordvoerder, Saif Abukeshek, sê meer as 200 deelnemers word aangehou op die lughawe of ondervra in hotelle in die hoofstad. Dit sluit burgers van Amerika, Australië, Nederland, Frankryk, Spanje, Marokko en Algerië in. Hulle wou opruk na die Rafah-grenspos tussen Egipte en Gaza om die toegang van humanitêre hulp en ‘n einde aan Israel se blokkade te eis.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Bulle, Jake White, het een gedwonge verandering aan sy opdrafspan aangebring vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-eindstryd teen Leinster in Dublin. Cameron Hanekom is beseer tydens die halfeindstryd-oorwinning oor die Haaie en word vervang deur Marco van Staden. Nizaam Carr is op die bank en Marcell Coetzee skuif na agsteman. Die Bulle het al twee keer in die eindstryd gespeel maar nog nooit die titel gewen nie. Hulle sal as algehele buiteperd op die veld draf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 106-duisend-982-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-382-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se spatlo-toebroodjie, ook bekend as kota, het CNN Travel se lys van die wêreld se 25 beste toebroodjies gehaal. Dis ‘n kwart brood wat uitgehol en met ʼn verskeidenheid bestanddele soos vleis, skyfies, eier, polonie en atjar gevul word. Nommer een kom uit Spanje: Bocadillo de jamón Ibérico, bestaande uit dungesnyde vleis en kaas op brood wat dan met olyfolie bedruip word. Ander toebroodjies op die lys sluit in die Po’boy van New Orleans, die Chip Butty van Brittanje, en Chivito van Uruguay.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….