Goeie Nuus
BULLETIN 12 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Suid-Afrika se spatlo-toebroodjie, ook bekend as kota, het CNN Travel se lys van die wêreld se 25 beste toebroodjies gehaal. Dis ‘n kwart brood wat uitgehol en met ʼn verskeidenheid bestanddele soos vleis, skyfies, eier, polonie en atjar gevul word. Nommer een kom uit Spanje: Bocadillo de jamón Ibérico, bestaande uit dungesnyde vleis en kaas op brood wat dan met olyfolie bedruip word. Ander toebroodjies op die lys sluit in die Po’boy van New Orleans, die Chip Butty van Brittanje, en Chivito van Uruguay.
# Die Duisend Vroue-trust het ʼn kompetisie bekendgestel om leerders by skole reg oor Suid-Afrika te leer om teen afknouery op te staan. Leerders word aangemoedig om te wys hoe vyf kwessies gebruik kan word om in te gryp wanneer afknouery by skole plaasvind. Dit is om af te lei, te delegeer, te dokumenteer, te vertraag en weg te lei. Deelnemers kan skeppende mediums soos plakkate, liedjies, gedigte, stories of muurkuns gebruik. Medestigter Tina Thiart sê die prettige kompetisie moedig vernuwende maniere aan om op te staan teen boelies.
# Een van die oudste kinderhuise in Suid-Afrika, die Durbanville-kinderhuis, het ‘n skenking van 150-duisend-rand van die Stad Kaapstad se Burgemeestersfonds ontvang. Die kinderhuis huisves 144 kinders tussen twee en 18 jaar uit die gemeenskap, informele nedersettings, plase en landelike gebiede. Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe Dienste, Theresa Uys, sê die fonds is deel van die metro se strategiese doelwitte in sy Geïntegreerde Ontwikkelingsplan:
# Skietsport: Die 17-jarige Ruben Rudling van Port Shepstone gaan Suid-Afrika in Augustus verteenwoordig op die Britse Junior wêreldbyeenkoms in Engeland. Hy is een van twee leerders van KwaZulu-Natal wie se passie en skietvaardighede hom ‘n plek in die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskuttersunie se nasionale toer verseker het. Sy gesin het reeds die helfte van die 75-duisend-rand ingesamel wat vir die toer nodig is, maar Ruben vra verdere ondersteuning op sy BackaBuddy-blad om sy internasionale droom te verwesenlik.
# En ten slotte: ʼn Switserse man het die Guinness-wêreldrekord verbeter deur langer as twee uur onder sneeu begrawe te bly. Die mededingende kragopteller Elias Meyer het die uitdaging aanvaar om die langste tyd met sy hele liggaam in kontak met sneeu deur te bring met net ʼn swembroek aan. Die Pool Valerjan Romanvoski het in 2022 een-uur-45-minute-en twee-sekondes uitgehou. Meyer se rekordtyd is twee-uur-sewe-sekondes. Hy sê die gewig van die sneeu het hom meer gepla as die koue.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….