Nuus 14:00
BULLETIN 12 Junie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Navorsing bevind SEB-nakoming kos die Suid-Afrikaanse ekonomie vyf-duisend-miljard-rand
# Ramaphosa kondig vier nuwe vlagskip-groen waterstofprojekte aan vir kabinetsgoedkeuring
# En ActionSA vra ‘n oudit van dreineringstelsels aan ná die onlangse vloede in die Oos-Kaap
# Die Vryemarkstigting en Solidariteit se Navorsingsinstituut beweer swart ekonomiese bemagtiging het Suid-Afrika meer as vyf-duisend-miljard-rand in verlore ekonomiese groei gekos. ‘n Verslag voer aan die nakoming van swart ekonomiese bemagtiging kos tot 290-miljard-rand per jaar en het tot die verlies van byna vier-miljoen werksgeleenthede gelei. Die studie beweer die stelsel bevoordeel hoofsaaklik ‘n klein eksklusiewe groepie, maar belemmer algehele groei en indiensneming. Die stigting versoek ‘n verskuiwing van rassebeleid na breër ekonomiese vryheid en geleenthede.
# President Cyril Ramaphosa het aangekondig dat vier nuwe vlagskip-groen waterstofprojekte voorberei word vir voorlegging aan die kabinet. Hy het op die Afrika Groen Waterstofspitsberaad in Kaapstad gesê hierdie projekte sal bou op die vordering wat reeds gemaak is, insluitend die Coega Groen-Ammoniakprojek in die Oos-Kaap en die loodsprojek by Sasolburg in die Vrystaat wat reeds groen waterstof vir plaaslike gebruik produseer:
# ActionSA in die Oos-Kaap vra ‘n volledige oudit van die provinsie se brûe, paaie en dreineringstelsels in hoërisiko-munisipaliteite na die onlangse oorstromings. Die party sê die vloede het net in die OR Tambo-distrik tientalle lewens geëis. Luzuko Gedze van ActionSA sê hulle eis dat die Oos-Kaapse regering, in samewerking met die Nasionale Tesourie en die Departement van Samewerkende Regering, dringend ‘n rampreaksie- en infrastruktuur-rehabilitasieplan bekendstel:
# Die Landdroshof in Parys in die Vrystaat het die dubbele plaasmoordsaak teen ‘n 34-jarige beskuldigde tot Woensdag uitgestel vir ‘n aansoek om borgtog. Die polisiewoordvoerder, Josephine Rani, sê beamptes het Saterdag gereageer op ‘n toneel waar die liggame van twee mans van onderskeidelik 27- en 34-jaar oud, op ‘n plaas in die omgewing ontdek is. Sy sê die polisie het intussen vir Mpho Tsimane in hegtenis geneem en hy het reeds in die hof verskyn op aanklag van moord:
# Motorsport: Lance Stroll van Aston Martin is die naweek weer in aksie in die Kanadese Grand Prix. Die 26-jarige renjaer het aan die vorige wedren in Spanje onttrek om ‘n mediese prosedure te ondergaan ná pyn in sy hand en gewrig. Die span sê die pyn het verband gehou met ʼn prosedure wat hy voor 2023 se seisoen ondergaan het nadat hy van sy fiets geval en sy gewrig beseer het. Stroll sê hy is opgewonde om agter die stuur te wees voor sy tuisskare in Montreal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-64-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-447-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….