Nuus 11:00
BULLETIN 12 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile beantwoord vandag vrae in die Parlement oor onder meer MIV/Vigs en watertekorte
# Die DA sê die tekort aan werktuigkundiges in die polisie vertraag misdaadreaksie in Gauteng
# En ‘n VN-verslag toon hoë ongevalle onder Oekraïnse burgerlikes duur voort
# Adjunkpresident Paul Mashatile beantwoord vandag vrae oor verskeie kwessies in die Nasionale Vergadering. Een van die groot kopsere wat hy sal hanteer, is die maatreëls wat die regering getref het na die onttrekking van Amerika se presidensiële noodplan vir Vigs-verligtingbefondsing, PEPFAR. Die Presidensie sê Mashatile sal aantoon dat die onttrekking nie ‘n ernstige uitwerking sal hê op die aankoop en verspreiding van anti-retrovirale middels nie. Hy sal ook vrae hanteer oor pogings om watertekorte teen te werk, asook oor befondsing en hulpbronondersteuning vir kleinskaalse boere.
# ActionSA het ‘n reeks byeenkomste gereël om die eerste herdenking van die regering van nasionale eenheid te vier. Dit bereik Dinsdag ʼn hoogtepunt met ʼn aanbieding van die party se assessering van die RNE se prestasie gemeet aan belangrike aanduiders uit die regering se eie verslaggewing en die beloftes wat hy aan landsburgers gemaak het. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê in die afwesigheid van ekonomiese hervorming het die RNE ʼn ekonomie met min groeivooruitsigte gelei:
# Die DA sê misdaadvoorkoming in Gauteng word belemmer weens die tekort aan werktuigkundiges in die polisie se werkswinkels. Premier Panyaza Lesufi het vroeër bevestig daar is 110 vakante poste vir werktuigkundiges, wat lang vertragings met die herstel van polisievoertuie veroorsaak. Crezane Bosch van die DA waarsku stukkende voertuie wag reeds tot ‘n jaar lank in werkswinkels, wat gemeenskappe in gevaar stel:
# Burgerlike sterftes en beserings was die eerste vyf maande van die jaar 50-persent hoër in Oekraïne as dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is volgens ʼn verslag deur ʼn moniteringskommissie van die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte. April het van die hoogste sterftesyfers gehad, met een-duisend-389. Russiese langafstandmissiel- en hommeltuigaanvalle veroorsaak die meeste burgerlike ongevalle. Danielle Bell van die VN sê teen hierdie tempo is verdere burgerlike verliese nie net moontlik nie, maar onvermydelik.
# Sokker: Die mede-gasheer, Mexiko, is gewikkel in ‘n wedloop teen tyd om die ikoniese Azteca-stadion op te gradeer voor die openingswedstryd van die Wêreldbekertoernooi. Mexiko sal die eerste land wees wat die internasionale skouspel vir ‘n derde keer aanbied wanneer die toernooi op 11 Junie volgende jaar begin. Die stadion in die hoofstad, Mexikostad, word vergroot van 87- na 90-duisend sitplekke, en die opgraderings wat fokus op die wêreldbeheerliggaam Fifa se voorskrifte, sluit ook nuwe kleedkamers en groter gasvryheidsones in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-950-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….