Nuus 06:00
BULLETIN 12 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Finansies sê die sukses van die begroting hang af van doeltreffende uitvoering
# Blade Nzimande sê die Nasionale Dialoog moet besin oor die foute van die verlede
# En die medestigter van The Beach Boys, Brian Wilson, is oorlede
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die sukses van die 2025 begroting hang af van die regering se vermoë om dit doeltreffend te implementeer. Hy sê alhoewel beduidende fondse in die begroting voorsien is, waaronder 490-miljard-rand vir infrastruktuur oor die volgende drie jaar, is die werklike uitdaging verantwoordelike besteding en toesig. Godongwana het die Parlement versoek om streng monitering te waarborg sodat hulpbronne behoorlik aangewend kan word:
# Die minister van Wetenskap, Tegnologie en Innovering, Blade Nzimande, sê die komende Nasionale Dialoog moet eerlik kyk na Suid-Afrika se foute van die verlede en blywende oplossings soek. Die dialoog, wat president Cyril Ramaphosa vir 15 Augustus aangekondig het, sal deur 31 gesiene persone gelei word. Nzimande het in ‘n onderhoud met SABC News gewaarsku dat die vergadering nie ‘n elite-bespreking moet word nie en aandag moet gee aan ekonomiese hervorming:
# SASSA het erkenning gegee aan die Universal Basic Income Coalition se bekommernisse oor die kontrolering van toelaes. SASSA sê hierdie prosesse is in ooreenstemming met wetlike voorskrifte en gemik op die voorkoming van bedrog, veral in gevalle waar begunstigdes nie veranderings in inkomste verklaar nie. Nagenoeg 58-duisend uitbetalings is vertraag maar nie opgeskort nie en word nou hersien. SASSA vra begunstigdes wat hierdeur geraak word om hulle kontakbesonderhede by te werk en het bevestig dat geen uitbetalings gekanselleer sal word sonder die nodige kennisgewing of die geleentheid om te appelleer nie.
# Die premier van die Oos-Kaap, Oscar Mabuyane, sê die koste van infrastruktuurskade tydens die onlangse vloede moet nog bepaal word. Honderde inwoners, veral in Butterworth en Ngoma, is dakloos gelaat en word in tydelike skuilings gehuisves. Kragonderbrekings duur in verskeie distrikte voort. Mabuyane sê gekoordineerde tegniese reddingspanne is besig met herstel- en ontruimingspogings in die mees geteisterde gebiede:
# Krieket: Suid-Afrika het die eerste dag van die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd by Lord’s in Londen afgesluit met 43 vir vier in hul eerste beurt, steeds 169 lopies agter Australië. Kagiso Rabada het vyf paaltjies geneem toe die Proteas Australië vir 212 uitgehaal het. In antwoord daarop het Mitchell Starc die aanvangskolwers Aiden Markram, met ‘n eendjie, en Ryan Rickelton op 16 weggestuur. Pat Cummins het die paaltjies van Wiaan Mulder, en Josh Hazlewood dié van Tristan Stubbs, laat val. Kaptein Temba Bavuma en David Bedingham sal vandag onderskeidelik op drie en agt hervat.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-656-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Brian Wilson, die medestigter van een van die grootste rockgroepe, The Beach Boys, is op 82-jarige ouderdom oorlede. Dit het vroeg verlede jaar bekend geword dat hy aan demensie ly. Die Beach Boys het van 1962 tot 1966 tien top-tien-treffers en ‘n verdere sewe top-40-treffers vir Capitol Records opgeneem. Die meeste hiervan is deur Wilson geskryf, of hy was medeskrywer, en vervaardig. Die tweemalige Grammy-wenner laat immergroen treffers na, insluitend In My Room, God Only Knows, California Girls en Wouldn’t It Be Nice.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….