Nuus 17:00
BULLETIN 11 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra minister Parks Tau moet voor Parlement verskyn oor die hantering van die Lotery-lisensie
# BOSA is besorg oor 93-persent van skoolpersoneellede wat nie teen die seksoortrederregister getoets is nie
# En jong Suid-Afrikaners is onder groot finansiële druk maar bly steeds finansieel slim
# Die DA sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, en die voorsitter van die Nasionale Loterykommissie, Barney Pityana, moet die hantering van die nuwe Loterylisensie aan die Parlement verduidelik. Dit volg op kommer oor die aanstelling van Sizekhaya Holdings as die nuwe lisensiehouer en Ithuba Holdings as ‘n tydelike operateur. Toby Chance van die DA sê inligting dui ook daarop dat duisende loterymasjiene weens tegniese probleme buite werking is:
# Die minister van Minerale en Petroleum-hulpbronne, Gwede Mantashe, het ‘n sleutelklousule in die Konsep-wetsontwerp op Mynbou onttrek en die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging vir verkenning verwyder. Die aanpassing volg op ‘n teenreaksie van die mynbedryf, wat gewaarsku het dat sulke reëls beleggings in die hoërisiko-verkenningsektor negatief sal beïnvloed. Volgens News24 het Mantashe verduidelik dat genoteerde mynmaatskappye nie ministeriële goedkeuring vir veranderings in beheer sal benodig nie. Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê verskeie ander bepalings in die wetsontwerp bedreig werkskepping en ekonomiese groei.
# Build One South Africa sê 93-persent van volwassenes wat by skole werk, is nie teen die nasionale register vir seksoortreders getoets nie. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het onthul dat slegs sewe-persent van byna 500-duisend onderwysers en ondersteuningspersoneel vrywaringsertifikate ontvang het. Roger Solomons van BOSA sê vertragings deur die Departement van Justisie en die polisie plaas kinders in gevaar:
# Sokker: Brasilië, Ecuador, Australië en Oman het hul plekke verseker in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Noord-Amerika. Brasilië het Paraguay 1-0 geklop terwyl Ecuador met ‘n doellose gelykopuitslag teen Peru gekwalifiseer het. Australië het sy sesde agtereenvolgende verskyning beklink deur Saoedi-Arabië 2-1 te klop. Oman het sy plek verseker in die 97ste minuut teen Palestina, terwyl Chili uitgeskakel is met ʼn nederlaag van 0-2 teen Bolivië. Uruguay, Paraguay en Colombië bly in die wedloop, met Venezuela wat ook nog kan deurdring. Die vierde kwalifiserende ronde begin in Oktober.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-783-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-56-sent per vat.
# En laastens, Standard Bank se jongse Jeugbarometer dui aan jong Suid-Afrikaners is onder groot finansiële druk, maar bly steeds finansieel slim. Die meeste jongmense tussen 18 en 35 bestee meer as die helfte van hulle inkomste op noodsaaklikhede soos kruideniersware, huur en vervoer. Omtrent 73-persent koop tweedehandse motors en meer as 65-persent koop die voertuie sonder ‘n deposito. Hoewel 26-persent van mense met begrafnispolisse onder 35 is, het slegs 16-persent lewensversekering. Byna 40-persent van nuwe huislenings word vir mense onder 35 goedgekeur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….