Nuus 16:00
BULLETIN 11 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe wysig die Konsep-wetsontwerp op Mynbou om SEB-vereistes vir verkenning te onttrek
# Die DA sê alle aanstellings op ministeriële rade moet ondersoek word
# En krieket: Die Proteas laat vier Australiese paaltjies spat op die eerste oggend op Lord’s
# Die minister van Minerale en Petroleum-hulpbronne, Gwede Mantashe, het ‘n sleutelklousule in die Konsep-wetsontwerp op Mynbou onttrek en die vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging vir verkenning verwyder. Die aanpassing volg op ‘n teenreaksie van die mynbedryf, wat gewaarsku het dat sulke reëls beleggings in die hoërisiko-verkenningsektor negatief sal beïnvloed. Volgens News24 het Mantashe verduidelik dat genoteerde mynmaatskappye nie ministeriële goedkeuring vir veranderings in beheer sal benodig nie. Die Minerale Raad van Suid-Afrika sê verskeie ander bepalings in die wetsontwerp bedreig werkskepping en ekonomiese groei.
# Die DA sê die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, se debakel rondom die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid beklemtoon die behoefte aan strenger parlementêre oorsig oor alle aanstellings deur ministeriële rade. Die minister het die aanstellings van SETA-raadsvoorsitters teruggetrek ná openbare teenkanting. George Michalakis van die DA sê hulle gaan vandag skriftelike vrae rig aan alle ministers en besonderhede vra oor die prosesse wat met raadsaanstellings gevolg word:
# Moroadi Cholota se regspan oorweeg hul volgende stap nadat die Hooggeregshof in die Vrystaat beslis het haar uitlewering uit Amerika was onregmatig. Cholota se prokureur, Piet Tebane, sê hulle kyk na regstellende optrede omdat haar grondwetlike regte geskend is. Die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule se destydse persoonlike assistent word verbind met die multimiljoen-rand-asbesdaksaak. Die hof het bevind die Nasionale Vervolgingsgesag het nie die regsbevoegdheid vir die besluit nie en slegs die Departement van Justisie mag uitlewerings magtig.
# Die Roodepoortse Landdroshof in Gauteng het ‘n 39-jarige man formeel aangekla in verband met die moord en verminking van die 14-jarige Likhona Fose. Haar liggaam is vroeër die maand in die veld in Durban Deep gevind. Mduduzi Trevor Mnisi is Maandag ondervra en gister in hegtenis geneem. Landdros Annalene Afrika het die saak tot volgende Woensdag uitgestel vir verdere ondersoek. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, het die gemeenskap se pogings met die inhegtenisneming verwelkom:
# Krieket: Die eerste skof van die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Australië op Lord’s in Londen het beslis aan Suid-Afrika behoort. Kaptein Temba Bavuma het die loot gewen en besluit om te boul. Kagiso Rabada het die beste van die bewolkte toestande gemaak en die paaltjies van Usman Khawaja en Cameron Green in die sewende boulbeurt geneem. Marco Jansen het saam feesgevier en van die Suid-Afrikaans-gebore aanvangskolwer Marnus Labuschagne en ook van Travis Head ontslae geraak. Teen middagete het Australië 67 vir vier op die telbord gehad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-en-94-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-339-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….