Nuus 15:00
BULLETIN 11 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Man word formeel aangekla van die grusame moord op ‘n Gautengse tiener
# Stappe word gedoen teen aanklaers wat die staat se sake ondermyn
# En internasionale eer vir ‘n wynmaker van Stellenbosch
# Die Roodepoortse Landdroshof in Gauteng het ‘n 39-jarige man formeel aangekla in verband met die moord en verminking van die 14-jarige Likhona Fose. Haar liggaam is vroeër die maand in die veld in Durban Deep gevind. Mduduzi Trevor Mnisi is Maandag ondervra en gister in hegtenis geneem. Landdros Annalene Afrika het die saak tot volgende Woensdag uitgestel vir verdere ondersoek. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, het die gemeenskap se pogings met die inhegtenisneming verwelkom:
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, sê stappe word gedoen teen aanklaers wat die staat se sake ondermyn. Dit volg nadat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, haar opmerking teruggetrek het dat die Nasionale Vervolgingsgesag deur korrupte amptenare binnegedring is. ActionSA vra dat Batohi uit die kussings gelig word oor staatskaping-mislukkings, insluitend die Gupta-uitlewering wat steeds onopgelos is. Kubayi het die NVG verdedig en gesê nie alle sake weerspieël stelsel-mislukkings nie. Ondersoek word ingestel na sekere mense en dissiplinêre stappe word gedoen teen wangedrag.
# Die DA waarsku drie-duisend-563 pasiënte in Gautengse openbare hospitale wag op Magnetiese Resonansiebeelding-skanderings. Die masjiene word dringend benodig om gewasse en beserings te diagnoseer. Die grootste agterstand is by die Charlotte Maxeke-hospitaal met twee-duisend-347 pasiënte wat tot 12 maande moet wag weens stukkende masjiene. Slegs agt MRI-masjiene is beskikbaar vir meer as 12-miljoen mense, aansienlik minder as internasionale standaarde. Die DA-lid, Jack Bloom, stel vennootskappe met privaat hospitale voor om beskikbare masjiene te benut:
# Sokker: Amptenare van Amerikaanse gasheerstede vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi het die versekering gegee dat oorsese toeskouers nie bekommer hoef te wees oor visums, grensbeheer of openbare geweld nie. Die toernooi, wat deur die VSA, Kanada en Mexiko aangebied word, begin vandag oor ‘n jaar. Die Amerikaanse organiseerders sê president Donald Trump se administrasie bly verbind tot die toernooi, ondanks sy grensbeleid sedert sy terugkeer na die Withuis, wat tot oproerigheid in Kalifornië gelei het. Wêreldbekerwedstryde sal in 11 Amerikaanse stede aangebied word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-268-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-330-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse wynmaker Johan Jordaan van die wynlandgoed Spier naby Stellenbosch is gekroon as 2025 se Globale Chenin Blanc-meesterwynmaker op die Meester-wynmaker 100-toekennings in Parys. Hierdie eer volg nadat twee van Spier Chenin Blancs meester-goue medaljes ingepalm het. Die erkenning dra by tot die groeiende aansien van Suid-Afrika vir die vervaardiging van wêreldklaswyne op die wêreldverhoog. Jordaan het die spanpoging geloof en die praktiese aard van werk met chenin geprys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….