Nuus 06:00
BULLETIN 8 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Beurtkrag word tot verdere kennisgewing opgeskort
# Die SAKP sê Jacob Zuma mislei die land
# En, tennis: Rafael Nadal onttrek hom aan die Australiese Ope weens ‘n geskeurde spier
# Eskom het Sondag aangekondig beurtkrag is tot verdere kennisgewing opgeskort. Die kragvoorsiener sê daar is ‘n volgehoue verbetering in kapasiteit en voldoende noodreserwes. Eskom het vroeër Sondag ook gesê die laer as verwagte aanvraag het gelei tot sy besluit om die opskorting van beurtkrag tot Maandagoggend te verleng.
# Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Solly Mapaila, sê voormalige president Jacob Zuma mislei die land nadat Zuma Suid-Afrikaners aangemoedig het om vir die pasgestigte party, uMkhonto weSiswe, te stem. Mapaila het lede van die alliansie by die Avalon-begraafplaas in Soweto toegespreek op die 29ste herdenking van die dood van die voorsitter van die SAKP, Joe Slovo. Hy sê die nuwe MK-party is deel van klein, onbeduidende kiesersgroeperings wat oral opskiet en wat hulle as die redders voordoen, terwyl hulle net in eiebelang optree en geen alternatief bied vir, wat hy noem, die uitbuitende kapitalistiese stelsel nie:
Intussen sê die party hy sal nie ambisieuse lede duld wat druk uitoefen vir leierskapposisies nie. Oudpresident Jacob Zuma het tydens ʼn saamtrek in Mkhondo, Mpumalanga, gewaarsku hy sal nie huiwer om self teen problematiese lede op te tree nie. Zuma, wie se gesig op die stembrief verskyn, en die tussentydse leierskap, het dit duidelik gestel die MK-leierskap sal eers ná die verkiesing aangewys word. Die tussentydse leiers waarsku diegene van die ANC wat aansluit dat hulle gewone lede sal wees wat hulle plek moet verdien. Diegene wat hulleself as provinsiale leiers aangestel het, is aangesê om te kalmeer.
# ActionSA in Gauteng het aan die provinsiale polisiekommissaris, Elias Mawela, geskryf om in te gryp rakende die kwessie van vertragingstaktieke óf beskerming van misdadigers deur lede van die polisie, in plaas daarvan dat hulle die slagoffers van misdaad in die provinsie beskerm. Dit is nadat Patricia Khoza verlede jaar deur die polisie by Primrose-polisiestasie in Germiston, Ekurhuleni, van aanranding aangekla is nadat sy gehelp het om ‘n ongedokumenteerde buitelander, Sylvester Ezuko Uchekpu, in hegtenis te laat neem vir die kaping van ‘n gebou. Funzi Ngobeni van ActionSA sê Uchekpu is uiteindelik in hegtenis geneem, maar is Vrydag weer op borgtog van 500-rand vrygelaat:
# Frankryk gaan agt nuwe kernkragaanlegte bou, bykomend tot die ses wat president Emmanuel Macron vroeg in 2022 aangekondig het. Die land se minister van Energie, Agnès Pannier-Runacher, sê meer reaktors is nodig om koolstofverminderingsteikens te haal. ʼn Konsepwet wat binnekort ingedien sal word, erken die behoefte aan meer as die ses aanlegte wat aanvanklik beplan is. Volgens Climate Watch, is Frankryk se kweekhuisgas-vrystellings, in 2020 gemeet op sowat 4,7-ton per kapita, van die laagste in die EU. Die land het 57 kernreaktors wat die afgelope jare langdurige en duur herstelwerk nodig gehad het.
# Tennis: Die 22-malige Grand Slam-kampioen, Rafael Nadal, het aan die Australiese Ope onttrek. Die Spanjaard se terugkeer is op ys nadat hy in Brisbane ʼn mikro-skeur aan ʼn spier opgedoen in sy kwarteindwedstryd teen die Australiër, Jordan Thompson. Nadal het Sondag op sosiale media aangekondig hy het in Melbourne ʼn MRI-skandering ondergaan wat die geskeurde spier gewys het en hy keer terug Spanje toe. Die besering kom skaars ʼn week nadat hy na ʼn jaar lange afwesigheid na die baan terugkeer het. Hy moes ná die Australiese Ope in 2023 ʼn heupoperasie ondergaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-786-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-45-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….