Nuus 18:00
BULLETIN 10 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan Batohi ontmoet oor haar opmerkings oor infiltrasie van die Nasionale Vervolgingsgesag
# ‘n Dinkskrum vra Ramaphosa om ondersoek in te stel na die NVG se mislukking met korrupsie-vervolgings
# En krieket: Labuschagne en Khawaja is Australië se aanvangspaar in die toets-eindstryd teen Suid-Afrika
# President Cyril Ramaphosa gaan die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag, Shamila Batohi, ontmoet oor haar opmerkings oor die beweerde infiltrasie van die NVG. Batohi het onlangs beweer sommige aanklaers werk moontlik saam met misdadigers om sake doelbewus te saboteer. Sy het later egter gesê die opmerkings was swak bewoord. Ramaphosa sê die vergadering sal Batohi die geleentheid bied om haar bekommernisse en uitdagings te deel:
Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming versoek Ramaphosa intussen om dringend ‘n regter-geleide ondersoek na die NVG in te stel terwyl kommer begin toeneem oor die NVG se reeks hoëprofiel-hofmislukkings. News24 berig die dinkskrum sê daar moet ondersoek gedoen word na die NVG se struktuur, leierskap en vermoë om groot korrupsiesake te vervolg. Die sentrum se direkteur, Ann Bernstein, beveel ook ‘n nuwe onafhanklike proses aan om ‘n opvolger aan te stel wanneer Batohi in Januarie aftree.
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê dié week se Afrika-groen waterstofberaad in Kaapstad sal die Pan-Afrika-Groen Waterstofverslag onthul, en ‘n strategie om energie-vernuwing te bevorder. Hy het in Kemptonpark, Gauteng, gesê die oplossing van die elektrisiteitskrisis sal ekonomiese groei ontsluit. Ramokgopa beklemtoon sy vertroue in Suid-Afrika se tegniese vermoë en sê energiehervorming is noodsaaklik om werksgeleenthede te skep, vir die nywerheidswese en die groen ekonomie:
# AfriForum het die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, gekritiseer omdat hy stilbly oor SANParke se tenderskandaal van ‘n miljard-rand. ‘n Hof het onlangse bevind dat die inligtings-tegnologie-kontrak wat SANParke toegeken het, onwettig en ongrondwetlik is. Lambert de Klerk van AfriForum sê die stilswye dui op medepligtigheid aan korrupsie aangesien geen ondersoek van stapel gestuur is nie. Hy sê die burgerregtegroep sal druk verskerp vir verantwoordbaarheid en deursigtigheid in die bestuur van nasionale parke:
# Krieket: Marnus Labuschagne en Usman Khawaja sal Australië se kolfbeurt open in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Suid-Afrika wat môre op Lord’s in Londen begin. Josh Hazlewood is bo Scott Boland verkies om die snelboul-aanval te loods saam met Mitchell Starc en kaptein Pat Cummins. Die veelsydige Cameron Green keer terug na ‘n rugoperasie, terwyl Beau Webster sy plek behou om die voorste boulers met sy medium-spoed te ondersteun. Spel begin 11:30 môre-oggend, Suid-Afrikaanse tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-134-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-334-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….