Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 Junie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Kenners plaas hulle geld op die verdedigende kampioen, Australia, om Suid-Afrika te klop in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap wat môre op Lord’s in Londen begin. Albei spanne het maande laas toetskrieket gespeel, maar ‘n gewese kaptein van Engeland, Michael Vaughan, het vroeër gesê die Proteas het die eindstryd gehaal deur omtrent niemand te klop nie terwyl Australië teen baie sterker spanne gespeel het. Kagiso Rabada sal Suid-Afrika se naatboul-aanval lei. Die Proteas se afrigter, Shukri Conrad, beskryf dit as die belangrikste wedstryd in die span se bestaan.
# Atletiek: Die Suid-Afrikaner Marione Fourie het tweede geëindig na die plaaslike atleet Nadine Visser in die 100-meter hekkies vir vroue op Wêreldatletiek se Continental Tour Gold-byeenkoms in Hengelo, Nederland. In die 100-meter vir mans is die Nederlander Elvis Afrifa eerste oor die wenstreep, met die Suid-Afrikaner Benjamin Richardson tweede en Henrik Larsson van Swede derde. Uganda se gouemedaljewenner op die Olimpiese Spele in Tokio, Peruth Chemutai, het gemaklik gewen in die drie-duisend-meter hinderniswedloop vir vroue.
# Sokker: Daar is nog 28 spelers in Banyana Banyana se voorlopige groep oor vir die Afrikabekertoernooi vir Vroue. Hoofafrigter Desiree Ellis het die groep verklein vanaf 46 vir die toernooi wat vroeg volgende maand in Marokko begin. Vier-en-twintig spelers sal die 19de vir ‘n oefenkamp in Johannesburg aanmeld, terwyl die ander vier steeds klubverpligtinge in die buiteland het. Ellis sal die finale groep die 23ste aankondig. Banyana speel haar groepswedstryde teen Ghana, Tanzanië en Mali.
# Rugby: Die Skotse stut Zander Fagerson sal weens ‘n kuitbesering nie saam met die Britse en Ierse Leeus na Australië toer nie. Dit volg na sy vorige teleurstelling toe hy die enigste Skot was wat nie in 2021 teen die Springbokke gespeel het nie. Fagerson se onttrekking vererger die Leeus se probleem op vaskop-stut, want daar is reeds bekommernis oor Tadhg Furlong se fiksheid vir die toer. Die spelers het vir ‘n sesdaagse oefenkamp in Portugal bymekaargekom, met Ierland en Connacht se Australies-gebore stut Finlay Bealham wat vir Fagerson vervang.
# En motorsport: Formule Een het bevestig dat 2026 se seisoen net soos vanjaar 24 wedrenne sal hê, terwyl nuwe tegniese regulasies ingestel word. Madrid is die nuwe gasheerstad van die Spaanse Grand Prix, en vervang die Emilia Romagna Grand Prix op Imola in Italië. In nog ‘n verandering vind die Kanadese wedren die eerste keer in Mei plaas in ʼn poging om die program meer volhoubaar te maak. Australië bied steeds die eerste wedren van die seisoen aan, en Abu Dhabi die laaste een in Desember.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….