Nuus 12:00
BULLETIN 10 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Ramaphosa dryf vals hervorming
# ‘n Gewese Stellenbosse onderburgemeester word in Kayamandi doodgeskiet
# En die GOOD-party sê Greta Thunberg se sogenaamde inhegtenisneming ontbloot die wêreld se stilte oor Gaza
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Cyril Ramaphosa het tereg opgemerk dat ware hervorming en ekonomiese groei mekaar nie uitsluit nie. Die president het in sy weeklikse nuusbrief gesê ekonomiese groei sonder hervorming verskans uitsluiting, en hervorming sonder groei is nie volhoubaar nie. Gabriel Crouse van die instituut sê werklike hervorming gebeur wanneer geleenthede uitgebrei word om meer burgers te betrek deur onderwys, in diens-opleiding en werklike verbetering van inkomste, welvaart en lewenstandaarde:
# Die Wes-Kaapse polisie het begin met ‘n ondersoek na die moord op die voormalige onderburgemeester van Stellenbosch. Die 59-jarige Nyandiso Jindela is gisteraand in Kayamandi doodgeskiet. Polisiewoordvoerder Wesley Twigg sê Jindela is met ‘n skietwond aan sy keel gevind en mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar:
# Die GOOD-party sê die deportasie van die klimaatsaktivis Greta Thunberg en ander aan boord van die Madleen het dalk onbedoeld aandag getrek na die humanitêre krisis in Gaza. Die boot met 12 mense aan boord wat volgens berigte humanitêre hulp na Gaza wou neem, is na die Israelse hawestad Asdod gesleep nadat dié land se magte dit onderskep het. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit gaan oor menslikheid en geregtigheid:
# Sokker: Daar is nog 28 spelers in Banyana Banyana se voorlopige groep oor vir die Afrikabekertoernooi vir Vroue. Hoofafrigter Desiree Ellis het die groep verklein vanaf 46 vir die toernooi wat vroeg volgende maand in Marokko begin. Vier-en-twintig spelers sal die 19de vir ‘n oefenkamp in Johannesburg aanmeld, terwyl die ander vier steeds klubverpligtinge in die buiteland het. Ellis sal die finale groep die 23ste aankondig. Banyana speel haar groepswedstryde teen Ghana, Tanzanië en Mali.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-333-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-329-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-81-sent per vat.
# En laastens, die kletsrymer Kendrick Lamar was die groot wenner op die BET-toekennings in Los Angeles. Hy het toekennings ontvang vir beste album van die jaar vir GNX, beste manlike hip-hop-kunstenaar, video van die jaar vir Not Like Us, en beste samewerking saam met SZA vir Luther. Lamar het ook die prys gewen vir video-regisseur van die jaar saam met sy kreatiewe vennoot, Dave Free. SZA en Chris Brown is onderskeidelik aangewys as beste vroue- en mans- R&B/pop-kunstenaars. Mariah Carey en Jamie Foxx is aangewys as top-ikone.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….