Nuus 11:00
BULLETIN 10 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Ramaphosa bedryf vals transformasie
# Die Wêreldbank se infrastruktuurlening sal help in die energie- en die vragvervoer-sektor
# En die Atoomenergie-agentskap waarsku ‘n Israelse aanval op Iran kan Teheran noop om kernwapens te ontwikkel
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Cyril Ramaphosa het tereg opgemerk dat ware hervorming en ekonomiese groei mekaar nie uitsluit nie. Die president het in sy weeklikse nuusbrief gesê ekonomiese groei sonder hervorming verskans uitsluiting, en hervorming sonder groei is nie volhoubaar nie. Gabriel Crouse van die instituut sê werklike hervorming gebeur wanneer geleenthede uitgebrei word om meer burgers te betrek deur onderwys, in diens-opleiding en werklike verbetering van inkomste, welvaart en lewenstandaarde:
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê Suid-Afrika se voortgesette vennootskap met die Wêreldbank sal die land help om vinniger te vorder met hervormings in die infrastruktuurlandskap. Dit volg nadat die Wêreldbank ‘n lening van sowat 26,5-miljard-rand goedgekeur het vir strukturele hervorming om infrastruktuur te verbeter. Die lening maak fondse beskikbaar dat Eskom sy netwerk kan aanpas vir opwekking van hernubare energie en Transnet kan help om sy vragvervoer-vermoë uit te brei.
# Belangegroepe, waaronder Kopanang Africa Against Xenophobia en die South African Informal Traders Forum, daag Operasie Dudula en verskeie regeringsdepartemente voor die Hooggeregshof in Johannesburg. Hulle vra ‘n interdik om die teistering, intimidasie en geweld teen buitelandse burgers te stop. Die groepe maak ook beswaar teen die regering se versuim om migrante te beskerm. Itumeleng Makou van Kopanang sê die saak sal vandag en môre aangehoor word en word deur verskeie menseregtegroepe gesteun:
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap waarsku ‘n Israelse aanval op Iran se kernaanlegte kan druk op Teheran plaas om kernwapens te ontwikkel. Israel se onverklaarde kernwapenprogram maak hom die enigste land in die Midde-Ooste wat oor kernwapens beskik. Dit volg terwyl Amerika en Iran in onderhandelings betrokke is oor Teheran se kernprogram. Die agentskap se hoof, Rafael Mariano Grossi, sê Iran beskik oor genoeg verrykte uraan om verskeie kernbomme te maak, wat gemonitor moet word.
# Sokker: Daar is nog 28 spelers in Banyana Banyana se voorlopige groep oor vir die Afrikabekertoernooi vir Vroue. Hoofafrigter Desiree Ellis het die groep verklein vanaf 46 vir die toernooi wat vroeg volgende maand in Marokko begin. Vier-en-twintig spelers sal die 19de vir ‘n oefenkamp in Johannesburg aanmeld, terwyl die ander vier steeds klubverpligtinge in die buiteland het. Ellis sal die finale groep die 23ste aankondig. Banyana speel haar groepswedstryde teen Ghana, Tanzanië en Mali.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-479-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-328-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….