Nuus 07:00
BULLETIN 10 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement sê die finansiële en bestuurskrisis in munisipaliteite verdiep
# AfriForum kritiseer die SABC vir swak beplanning met die verandering van Afrikaanse nuustye
# En NAVO benodig ‘n 400-persent toename in lug- en missielverdediging
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Zweli Mkhize, sê die integriteit en funksionering van munisipaliteite is onder geweldige druk. Die Ouditeur-generaal het verlede maand berig slegs 41 van die land se 257 munisipaliteite het in die 2023/2024-boekjaar skoon oudits gekry. Mkhize sê 113 munisipaliteite word tans op begrotings sonder fondse bedryf, en beplan uitgawes ver bo dit wat hulle kan bekostig:
# AfriForum sê die jongste herskedulering van Afrikaanse nuus op SABC TV is swak beplan en loop die risiko om kykers te verloor. Die organisasie waarsku dat die nuwe tyd om 5.30 nm op weeksdae en 8 nm oor naweke op S3 landelike kykers kan vervreem en toegang tot belangrike nuus kan verminder. Alana Bailey van AfriForum sê die saak is na die Inligtingsreguleerder geneem nadat geen reaksie op sy formele versoek om antwoorde van die uitsaaier ontvang is nie:
# Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, daag president Cyril Ramaphosa en die Parlement voor die Konstitusionele Hof om die nuwe Wet op Openbare Verkryging onwettig te laat verklaar. Hy sê die wet is met ernstige gebreke aanvaar en sal munisipale dienslewering benadeel deur burokrasie by te voeg en verkrygingsinmenging toe te laat. Hill-Lewis voer aan die wet bedreig munisipale outonomie en skep ‘n gesentraliseerde stelsel wat dienste kan ontwrig. Die wet is onderteken, maar nog nie in werking gestel nie.
# Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, het berigte dat die DA se federale voorsitter, Helen Zille, oorweeg om ná volgende jaar se plaaslike verkiesing Johannesburg se burgemeester te word, afgelag. Volgens berigte het sommige DA-lede Zille gevra om haarself beskikbaar te stel. Morero sê Zille se moontlike insluiting op die lys vir burgemeester, kan beteken die DA erken die party is nie opgewasse vir die taak nie. DA-kandidate wat in munisipaliteite as burgemeesterskandidate wil staan, het tot 15 Junie tyd om hul aansoeke in te dien.
# NAVO se sekretaris-generaal, Mark Rutte, sê die organisasie het ‘n toename van 400-persent nodig in lug- en missielverdediging om ʼn geloofwaardige afskrikfaktor te bly. Dit kom in aanloop tot ʼn beraad in Den Haag later die maand wanneer die alliansie van 32 lande na verwagting sal saamstem oor ʼn voorstel van Donald Trump dat vyf-persent van bruto binnelandse produk gebruik word vir verdediging en verwante sake. Rutte sê die belegging is gegrond op harde feite:
# Rugby: Die Skotse stut Zander Fagerson sal weens ‘n kuitbesering nie saam met Britse en Ierse Leeus na Australië toer nie. Dit volg na sy vorige teleurstelling toe hy die enigste Skot was wat nie in 2021 teen die Springbokke gespeel het nie. Fagerson se onttrekking vererger die Leeus se probleem op vaskop-stut, want daar is reeds bekommernis oor Tadhg Furlong se fiksheid vir die toer. Die spelers het vir ‘n sesdaagse oefenkamp in Portugal bymekaargekom, met Ierland en Connacht se Australies-gebore stut Finlay Bealham wat vir Fagerson vervang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-22-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-904-dollar-30-sent. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….