Eko-minuut 13:30
BULLETIN 9 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, sê haaibewaring en swemmerveiligheid is steeds belangrik. Dit volg na die dood van ‘n gemerkte grootwithaai in ‘n geankerde aashoek langs die kus van Margate, KwaZulu-Natal, verlede maand. Die departement se woordvoerder, Thobile Zulu-Molobi, sê die balans tussen die beskerming van swemmers teen potensiële haai-aanvalle en die bewaring van die land se belangrike mariene ekostelsels is ‘n ingewikkelde kwessie wat voortdurend verander:
# Die vrees vir oopgroef-steenkoolmyne dwing grondeienaars op Mpumalanga se Hoëveld om privaat grond tot beskermde gebied te verklaar. Die stap is nie bloot vir bewaring nie, maar wil bydra om Suid-Afrika se biodiverse graslande te beskerm wat die tuiste is van spesies soos die lelkraanvoël en oribi. Volgens die Wêreldbank hou ongeveer 476-miljoen inheemse mense eiendomsregte van sowat ‘n kwart van die wêreld se oppervlak. Mpumalanga se Toerisme- en Parke-agentskap sê toenemende belangstelling in rentmeesterskap van bioverskeidenheid sal regsbeskerming teen mynbedrywighede bied.
# En navorsing in Brittanje toon die oseaan word donkerder weens klimaatsverandering, wat see-ekostelsels bedreig. Minder sonlig bereik die fotiese sone en beïnvloed seegras en plantaardige plankton wat noodsaaklik is vir seelewe en koolstofopname. Besoedeling en veranderde seestrome is die belangrikste oorsake. Kenners sê meer as 20-persent van oseane word geraak en spesies moet nou meeding. Volgens wetenskaplikes beperk die verskuiwing ook die oseaan se vermoë om koolstofdioksied op te neem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….