Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus versoek ‘n dringende portefeuljekomitee-vergadering ná OUTA se jongste NSFAS-verslag
# Die Toerismedepartement sê die daling in die brandstofprys sal toegang tot besienswaardighede vergemaklik
# En, rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap stel nuwe bywoningsrekords op
# Die VF Plus het ‘n dringende vergadering van die Parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering aangevra nadat bewerings oor korrupsie deur die Organisasie teen Belastingmisbruik weer ʼn herrie veroorsaak het by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente. NSFAS beleef ʼn noodtoestand sedert 2018, toe dit opgesaal is met die belofte van die ANC oor gratis hoër onderwys. ʼn Woordvoerder van die VF Plus, Wynand Boshoff, sê daar hang voortdurend ʼn wolk van korrupsie oor die skema en sy begroting van 40-miljard-rand:
# Die Departement van Toerisme sê die daling in die brandstofprys sal die toegang tot besienswaardighede vir toeriste vergemaklik en bydra tot die groeiende toerismegemeenskappe in Suid-Afrika. Die woordvoerder van die departement, Tasneem Carrim, sê die land het ʼn rykdom uiteenlopende aanbiedinge van toerisme en kultuur wat verskuil is in gehuggies, townships en dorpies. Sy sê hierdie deel van die plaaslike mark is die ruggraat van die toerismesektor wat ʼn deurslaggewende rol speel om te voldoen aan die vakansie- en ontspanningsbehoeftes van besoekers maar terselfdertyd broodnodige werksgeleenthede skep vir gewone mense:
# Die Gautengse verkeersowerheid sê hy sal wetstoepassingsoperasies vandag oor die provinsie heen verskerp om te verseker dat vakansiegangers veilig terugkeer ná die feestyd. Hoofroetes in die provinsie sal na verwagting vandag tot laataand besig wees. Die Verkeers-woordvoerder, Sello Maremane sê, tot dusver het altesaam 290 mense hul lewens verloor weens padsterftes in die provinsie sedert die begin van die feestyd:
# Die Suid-Koreaanse grenseiland Yeon-pyeong het mense gewaarsku om vandag binne te bly, sê plaaslike inwoners aan AFP, terwyl Noord-Korea vir die derde agtereenvolgende dag oefeninge met lewende ammunisie langs die maritieme grens met die Suide uitvoer. Die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, se magtige suster het vroeër vandag Seoel se aansprake ontken dat Pjongjang gister dosyne rondtes artillerie-ammunisie naby hulle grens afgevuur het. Die Gesamentlike Stafhoofde van die Suide sê die slagdoppe het in ʼn buffersone geval wat in 2018 tot stand gekom het om spanning te ontlont. Die ooreenkoms het in November tot niet gegaan nadat die Noorde ʼn spioenasiesatelliet gelanseer het.
# Rugby: Die Verenigde Rugbykampioenskap het gister nóg ʼn rekord opgestel met ʼn nuwe bywoning-syfer vir ʼn enkele ronde. Volgens SuperSport het die 19-duisend-703 ondersteuners wat die laaste wedstryd in Ronde 8 in Durban bygewoon het, waar die Haaie teen die Leeus gespeel het, die totaal vir die ronde, tot 135-duisend-747 geneem. Dit is meer as die syfer van 123-duisend-207 wat verlede seisoen in ronde 11 opgestel is. Dit volg nadat ʼn nuwe totale bywoningsrekord van 1,6-mijoen vir die 2022/2023 VRK-seisoen opgestel is, waar ook die grootste skare nóg, die liga se Eindstryd-finaal bygewoon het, naamlik 56-duisend-334. ʼn Nuwe rekord van 37,4-miljoen kykers het ook die wedstryde op die skerm gevolg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….