Nuus 13:00
BULLETIN 9 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ekonoom van FNB sê vertroue in die bousektor het in die tweede kwartaal gedaal
# Gauteng se Gesondheidsdepartement versnel die MRI-masjien-opgraderings vir beter pasiëntesorg
# En ‘n Comrades-atleet word opgespoor nadat sy na die wedloop verdwyn het
# ‘n Senior ekonoom van FNB, Siphamandla Mkhwanazi, sê die vertroue in die bousektor het in die tweede kwartaal vanjaar gedaal tot 36 vanaf 41 in die eerste kwartaal. Hy sê die laer saamgestelde lesing was grootliks te wyte aan ‘n daling van 24 in die vertroue van ysterware-kleinhandelaars. Mkhwanazi sê die sakestemming van hoofbouwerk- en subkontrakteurs is ook merkbaar laer:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid is besig om diagnostiese skanderingsdienste reg oor die provinsie te moderniseer en te versterk. Dit volg op ‘n toenemende vraag na Magnetiese Resonansiebeelding-skanderings en druk op sentrale dienste, as gevolg van toerustingbeperkings en personeeltekorte in die verlede. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die opgraderings word gedoen met ‘n spesifieke fokus op die verbetering van MRI-vermoë:
# Die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake sê provinsiale rampbestuurspanne het gebeurlikheidsplanne opgestel in afwagting van sneeuneerslae vandag. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir matige sneeuval in die westelike en suidelike dele van die provinsie. Die departement se woordvoerder, Zimasa Mbewu, sê sneeu sal waarskynlik ook oor hoogliggende gebiede en bergpieke val, wat ys op paaie kan veroorsaak en tot verkeersontwrigtings lei:
# Padwedlope: Die 54-jarige vrou wat gister vermis geraak het nadat sy die Comrades-marathon in KwaZulu-Natal voltooi het, is lewend gevind. Moira Harding van Kaapstad het die ultra-marathon om 4:52 die middag voltooi, maar toe verdwyn. Die Comrades-marathonvereniging sê sy is in die vroeë oggendure naby die Nasionale Seereddingsinstituut se basis by Die Punt in Durban opgespoor. Harding was verward en is na ‘n hospitaal gehaas. ‘n Rekordgetal van 22-duisend-200 atlete het deelgeneem aan die af-wedloop oor 89,9-kilometer van Pietermaritzburg na Durban.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-929-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-319-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-24-sent per vat.
# En laastens, twaalf jong Suid-Afrikaners het Forbes se Afrika 30-onder-30-lys vir vanjaar gehaal. Hulle word vereer vir hul vernuwing, veerkragtigheid en leierskap in verskeie sektore, insluitend gesondheidsorg, onderwys, sport en musiek. Van hulle is die uitvoerende hoof van Quantumed, Avian Bell, die Springbok-ster Sacha Feinberg-Mngomezulu, en die voorstander vir menstruele gesondheid, Candice Chirwa. Hulle lewensverhale en prestasies word geprys vir die weerspieëling van ‘n geslag wat verbind is tot invloed en doelgerigtheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….