Nuus 11:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sê dis in die belang van geregtigheid om te verseker alle oortreders wat die WVK mislei het word voor die hof gedaag
# Die SAKP sê dit sal nie die misbruik van die naam ‘uMkhonto weSiswe’ deur Zuma en ander voormalige lede duld nie
# En, sokker: Brasilië treur oor die ontslape sokker-held, Zagallo
# Die ANC sê dis in die belang van geregtigheid dat alle oortreders wat die Waarheids- en Versoeningskommissie mislei het en nie amnestie gekry het nie voor die hof gedaag word en die gevolge dra van hul gruwelike misdade teen die mensdom. Dit volg na die aankondiging dat die ondersoek na die Cradock Vier heropen word. Die party is ewe verheug oor die vordering wat gemaak is met ander WVK-sake wat nog ondersoek word of voor die howe dien. ‘n Woordvoerder van die ANC, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die vordering in hierdie gevalle is ongetwyfeld ongekend.
Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Solly Mapaila, sê die party sal nie toelaat die naam, uMkhonto weSiswe, word deur oudpresident, Jacob Zuma, en voormalige lede van uMkhonto weSiswe, misbruik nie. Mapaila het lede van die alliansie by die Avalon-begraafplaas in Soweto toegespreek, tydens die herdenking van die afsterwe van die voorsitter van die SAKP, Joe Slovo. Volgens hom het die SAKP die MK Veterane van die Bevrydingstryd andermaal bevestig as die enigste erkende vereniging en stem van bona fide-aanvoeders en gewone lede:
# Die Activists and Citizens Forum sê die aanwysing van die afgetrede adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke, as ad hoc-regter by die Internasionale Geregshof verdien gelukwense. Volgens die forum kan Suid-Afrika trots wees om iemand van Moseneke se kaliber te hê wat die land met die hoogste integriteit en waardigheid kan verteenwoordig. Die woordvoerder van die Activists and Citizens Forum, Dennis Bloem, sê dié aanstelling herinner ongelukkig aan hoe Moseneke destyds deur die voormalige president, Jacob Zuma, oor die hoof gesien is en nie as die hoofregter van die land aangestel is nie:
# Krieket: Reën het die laaste sê gehad in Sri Lanka se eerste eendagwedstryd teen Zimbabwe in Colombo met Zimbabwe ná vier boulbeurte kniediep in die moeilikheid op 12-vir-twee, voor dit hard begin reën het. Sir Lanka het 273-vir-nege aangeteken met Charith Asalanka se derde eendag-honderdtal, wat nege grenshoue ingesluit het. Die spanne speel môre en Dinsdag nog twee eendagwedstryde, gevolg deur drie T20-wedstryde, almal in Colombo.
# En om mee af te sluit, Sokkernuus: Huldeblyke stroom in van regoor die wêreld ná die dood van Brasilië se sokkerlegende, Mario Zagallo, wat die Wêreldbeker-sokkertoernooi vier keer gewen het, op die ouderdom van 92. Zagallo, wat saam met Pele gespeel het in Brasilië se Wêreldbeker-toernooi in 1958 en 1962 spanne en later die trofee as afrigter gewen het, het Vrydag aan veelvuldige orgaanversaking gesterf, nadat hy die afgelope maande vir ‘n reeks gesondheidsprobleme behandel is. AFP berig, president Luiz Inacio Lula da Silva het hulde gebring aan Zagallo terwyl Brasilië treur, en het Zagallo geprys as een van die grootste sokkerspelers en -afrigters van alle tye.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….