Nuus 16:00
BULLETIN 6 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SANTACO veroordeel die dodelike skietery by die Mfuleni-taxistaanplek
# Minister Tolashe belowe om Maatskaplike Ontwikkeling onder die regering van nasionale eenheid te stabiliseer
# En, Netanyahu erken dat Israel ’n gewapende groep in Gaza steun
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad in die Wes-Kaap het vandag se dodelike skietery by die Mfuleni-taxistaanplek waarin vier mense dood en drie beseer is, veroordeel. Die voorsitter van SANTACO, Mandla Hermanus, het die aanval as ‘n brutale en kriminele daad beskryf. Hy het alle operateurs versoek om kalm te bly en maksimum selfbeheersing uit te oefen terwyl pogings om eenheid in die bedryf te bevorder, voortduur:
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, sê dis uiters belangrik om haar departement onder die regering van nasionale eenheid te stabiliseer en armoede te bekamp. Tolashe het aan die media gesê haar onmiddellike fokus is op onder meer vinnige aanstellings in belangrike leiersposte, die uitbreiding van psigo-maatskaplike ondersteuning vir slagoffers van geslagsgeweld en die befondsing van langtermyn planne vir die 370-rand maatskaplike noodtoelaag. Sy het bevestig die beleid vir basiese inkomste-ondersteuning is in die kabinet ter tafel gelê en Nasionale Tesourie se verlenging van die toelaag verwelkom:
# President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel betuig aan die familie van die voormalige Zambiese president Edgar Lungu en die mense van Zambië na Lungu se afsterwe gister in Pretoria op 68-jarige ouderdom. Volgens die Patriotic Front het Lungu vir ‘n aantal weke mediese behandeling in Suid-Afrika ontvang vir ‘n onvermelde siekte. Lungu het Zambië vanaf 2015 gelei totdat hy die 2021-verkiesing teen die huidige president Hakainde Hichilema verloor het. Ramaphosa het hom as ‘n leier, ‘n broer en vriend beskryf.
# Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, erken dat Israel ‘n gewapende groep in Gaza ondersteun wat Hamas teenstaan. Dit volg op kommentaar deur ‘n voormalige minister dat Israel wapens aan hulle oorgedra het. Die Israeliese en Palestynse media het berig dat die groep deel is van ‘n plaaslike Bedoeïene-stam gelei deur Yasser Abu Shabab. Die Europese Raad vir Buitelandse Betrekkinge beskryf Abu Shabab as die leier van ‘n kriminele bende wat in die Rafah-gebied bedrywig is, wat wyd daarvan beskuldig word dat hulle vragmotors met noodvoorrade geplunder het.
# Rugby: Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White het nie twee keer gedink voordat hy Johan Goosen in die Bulle se opdrafspan vir hulle Verenigde Rugbykampioenskap halfeindstryd teen die Haaie op Loftus ingesluit het nie. Goosen, wat van ‘n besering herstel het, is die enigste verandering aan die span wat Edinburgh verlede week in Pretoria geklop het. Keagan Johannes skuif na die bank. Die Bulle is deur Goosen se terugkeer versterk, terwyl die Haaie die Springbok-slot Eben Etzebeth vir die groot kragmeting verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 24-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-134-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-359-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-23-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….