Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 6 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Drie Kaapstadse restaurante het die 2025-lys van die wêreld se 100 beste restaurante gehaal. Die lys word deur S.Pellegrino en Acqua Panna geborg en bevat van die mees gesogte eetplekke in die wêreld. La Colombe by die Silvermist-wynlandgoed wat die sesde keer op die lys verskyn, is nommer 55. FYN in Kaapstad se middestad maak sy vyfde verskyning op nommer 82, en Salsify by die Roundhouse in Kampsbaai maak sy eerste verskyning in die 88ste plek.
# Die Suid-Afrikaanse geoloog, Tebogo Makhubela is aangewys as ‘n National Geographic-verkenner en die ontvanger van die 2025 Wayfinder-toekenning. Makhubela word gevier vir sy navorsing by die Wieg van die Mensdom en omdat hy help om antieke geheime rondom die mens en sy oorsprong te ontsluit. Makhubela is deel van die Rising Star-span by National Geographic, wat die Homo Naledi en vroeë begrafnis-gebruike bestudeer. Hy sê die toekenning is ‘n mylpaal vir navorsers in Afrika en die vorming van die mensdom se gedeelde verhaal.
# Die gestorwe Suid-Afrikaanse dramaturg doktor Mbongeni Ngema se drama The Zulu open vanaand in die Joburg Theatre. Die produksie met hoofakteurs Abdul Khoza en Nhlakanipho Manqele, delf diep in die geskiedenis van die Zoeloe-nasie. Met wortels in kulturele erfenis en geskiedkundige gebeure, word die identiteit, krag en volgehoue weerstand van die Zoeloe-mense uitgebeeld. Die regisseur is Sibusiso Mamba. Dit maak deel uit van die eerste Mbongeni Ngema-fees wat tot 22 Junie duur.
# Oscar-genomineerde en musikant Cynthia Erivo sê om vanjaar se Tony Awards aan te bied, is ‘n pragtige manier om ‘n sikel vir haar te voltooi. Sy het in 2016 ‘n Tony gewen vir haar vertolking van Celie in The Colour Purple. Van die genomineerdes vanjaar is Jonathan Groff, Danya Taymor, Kara Young, Justin Peck, en Dede Ayite. Die 78ste Tony Awards vind Sondag in die Radio City Music Hall in New York plaas. Erivo sê sy is opgewonde om die teaterwêreld in die kollig te plaas:
# En ten slotte: Padwedlope: Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het sy volle ondersteuning beloof aan die 437 polisiebeamptes wat Sondag aan die Comrades-marathon deelneem. Die groep sluit in 66 vroue en 371 mans. Meer as 80 nasies gaan verteenwoordig word in die afdraande-wedloop van sowat 89 kilometer van Pietermaritzburg na Durban. ‘n Polisiewoordvoerder, Nonkululeko Phokane, sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens is verbind tot sy lede se gesondheid en welstand:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….