Eko-minuut 13:30
BULLETIN 6 Junie 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Internasionale Energie-agentskap sê wêreldwye belegging in energie gaan vanjaar tot ‘n rekordbedrag van 59-duisend-miljard-rand styg te midde van ekonomiese onsekerheid en kommer oor energiesekerheid. Hernubare bronne, kernkrag, kragnetwerke, energieberging, laekoolstof-brandstof en energiedoeltreffendheid sal die grootste beleggingsareas wees, terwyl beleggings in olie, aardgas en steenkool waarskynlik sal afneem. Die agentskap sê China bly die leier in beleggings in skoon energie terwyl Amerika na verwagting sal stabiliseer weens ʼn daling in regeringsondersteuning.
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hulle maak vordering met hulle foto-voltaïese sonkragaanleg van 200-miljoen-rand in Atlantis. Sowat twee-duisend-400 van die beplande 12-duisend-850 sonpanele, wat teen die einde van die jaar krag aan die plaaslike netwerk sal verskaf, is reeds geïnstalleer. Hill-Lewis sê die aanleg kan potensieel tot tien megawatt by die plaaslike netwerk voeg. Hy sê hulle sal die aanvanklike sewe megawatt teen die einde van die jaar aan ʼn nabygeleë hoofsubstasie koppel:
# Die Suid-Afrikaanse geoloog, Tebogo Makhubela is aangewys as ‘n National Geographic-verkenner en die ontvanger van die 2025 Wayfinder-toekenning. Makhubela word gevier vir sy navorsing by die Wieg van die Mensdom en omdat hy help om antieke geheime rondom die mens en sy oorsprong te ontsluit. Makhubela is deel van die Rising Star-span by National Geographic, wat die Homo Naledi en vroeë begrafnis-gebruike bestudeer. Hy sê die toekenning is ‘n mylpaal vir navorsers in Afrika en die vorming van die mensdom se gedeelde verhaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….