Nuus 11:00
BULLETIN 6 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit dien ‘n dringende VN-klag in oor sy rassewet-skikking
# Die Parlement sê daar is ’n ernstige gebrek aan vertroue in die polisie
# Amerika stel sanksies in teen regters van die Internasionale Strafhof
# Die vakbond Solidariteit het ‘n klag by ‘n Verenigde Nasies-agentskap ingedien waarin hulle die regering daarvan beskuldig dat hulle ‘n raswet-skikking oortree het. Die ooreenkoms is in 2023 met die hulp van die International Labour Organisation onderteken. Die vakbond het ‘n regsfonds van sewe-miljoen-rand op die been gebring om te veg teen wat dit onbillike rasgebaseerde beleide noem. Anton van der Bijl van Solidariteit sê nuwe reëls oor gelykheid in die werksplek, wat in April deur die minister van Arbeid, Nomakhosazana Meth, gepubliseer is, druis in teen die ooreenkoms:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, het beweringe dat die Nasionale Vervolgingsgesag ‘n krisis beleef en aan die misluk is, ontken. Haar ampstermyn is gekenmerk deur hoëprofiel-misstappe, wat insluit die verbroude vervolging van die Gupta-broers, Matshela Koko en Timothy Omotoso tot die hantering van aantygings teen Moroadi Cholota. Batohi het aan Newzroom Afrika gesê in ‘n land met ‘n baie hoë misdaadsyfer soek mense iemand om te blameer en die NVG is ‘n maklike teiken:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor die Polisie dring aan op antwoorde oor oortredings wat nie gestraf word nie en ‘n gebrek aan verantwoordelikheid in die polisiediens. ‘n Konstabel van Kuilsrivier is op borgtog uit vir verkragting maar is steeds in diens en ‘n adjudant-offisier in Lentegeur wat vroeër geskors is en later van dronkbestuur aangekla is, is weer aan diens. Die voorsitter, Ian Cameron, sê daar is ‘n ernstige gebrek aan vetroue in die polisie wat net gaan vererger as daar voortgegaan word om oortreders in diens te hê. Hy sê verantwoordelikheid is nie ‘n keuse nie.
# Amerika se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, het sanksies ingestel teen vier regters van die Internasionale Strafhof wat na bewering Amerika en Israel se soewereiniteit aantas. Die regters, Solomy Balungi Bossa van Uganda, Luz del Carmen Ibáñez Carranza van Peru, Reine Adelaide Sophie Alapini Gansou van Benin en Beti Hohler van of Slowenië is verbied om Amerika binne te gaan. Die sanksies is in reaksie op die Strafhof se lasbriewe vir Israelse amptenare, insluitend eerste minister Benjamin Netanyahu, en die ondersoek na beweerde Amerikaanse oorlogsmisdade in Afghanistan.
# Krieket: Die voormalige witbal-afrigter, Rob Walter, is vir die volgende drie jaar aangewys as Nieu-Seeland se nuwe mansafrigter in alle formate. Hy het die Proteas na die halfeindrondes van die 2023-Wêreldbeker vir eendagreekse en die 2025-Kampioenetrofee gelei, en in 2024 na die T20-Wêreldbeker-eindstryd. Sy kontrak duur tot ná die T20-Wêreldbeker in 2028. Walter sê dis ‘n wonderlike geleentheid vir hom:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-283-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….