Nuus 09:00
BULLETIN 6 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê die Nasionale Vervolgingsgesag is nie in die moeilikheid nie
# Die Padvragvereniging sê die toepassing van AARTO is nie onmiddellik in die vooruitsig nie
# En rugby: SA Rugby bevestig die afrigters van die SA Skole- en SA Skole ‘A’-spanne
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings, Shamila Batohi, het beweringe dat die Nasionale Vervolgingsgesag ‘n krisis beleef en aan die misluk is, ontken. Haar ampstermyn is gekenmerk deur hoëprofiel-misstappe, wat insluit die verbroude vervolging van die Gupta-broers, Matshela Koko en Timothy Omotoso tot die hantering van aantygings teen Moroadi Cholota. Batohi het aan Newzroom Afrika gesê in ‘n land met ‘n baie hoë misdaadsyfer soek mense iemand om te blameer en die NVG is ‘n maklike teiken:
# Die Padvragvereniging sê ten spyte van gerugte in sosiale media, is dit hoogs-onwaarskynlik dat die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe om middernag sal begin. Die voorsitter van die vereniging, Gavin Kelly, sê die Padverkeeroortredingsagentskap het in sy jongste amptelike aankondiging gesê AARTO sal in Oktober begin. Hy sê hulle het in 2019 omvattende terugvoer aan beide die Departement van Vervoer en die agentskap oor die regulasies gegee, maar nooit ‘n antwoord ontvang nie:
# Die GOOD-party doen ‘n beroep op die Regterlike Dienskommissie om die vermeende rassistiese opmerkings van regter Ratha Mokgoatlheng, wat die Senzo Meyiwa-moordverhoor hanteer, te hersien. Hy het tydens ʼn regstreekse uitsending beweerde rassistiese en verdelende opmerkings gemaak uit frustrasie met die verdediging se prokureur, Charles Mnisi, wat gevra het om Maandag van die hof verskoon te word omdat hy Sondag aan die Comrades-marathon deelneem. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regter se opmerkings ondermyn regs-integriteit:
# Die geveg tussen miljardêr Elon Musk en president Donald Trump het toegeneem met Musk wat onder meer op X gesê het Trump moet in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. Hy beweer Trump sou nie die verkiesing sonder hom gewen het nie. Musk sê daar is onbevestigde bewyse dat Trump in dokumente van die oorlede seksoortreder Jeffrey Epstein genoem word. Trump het op Truth Social gereageer en dreig om regeringskontrakte met Musk se maatskappye te beëindig. Tesla se aandeelprys het ná die openbare onderonsie gister met sowat 14,2-persent gedaal.
# Rugby: Lwazi Zangqa van Grens is aangewys as die nuwe hoofafrigter van die SA Skole-span. Hy sal bygestaan word deur Cobus van Dyk van die Bulle. Die SA Skole A-span sal afgerig word deur Flash Malinga van KwaZulu-Natal, met Clinton van Rensburg van die Westelike-Provinsie as sy assistent. Zangqa van Hudson Park Hoërskool was verlede jaar die SA Skole-hulpafrigter, terwyl Van Dyk van Hoërskool Waterkloof ‘n spesialisafrigter vir beide die SA Skole- en SA Skole A-spanne in 2023 en 2024 was.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-529-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….