Nuus 07:00
BULLETIN 6 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom die aanvaarding van die fiskale raamwerk
# Minister De Lille sê die veiligheid van internasionale besoekers is ‘n nasionale prioriteit
# En die Brasiliaanse president beskuldig Israel van volksmoord met voorbedagte rade
# Die regering verwelkom die parlementêre staande komitee oor Finansies se goedkeuring van die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle onderliggend aan die 2025-begroting. Die aanvaarding van die raamwerk is ‘n belangrike stap in die begrotingsproses. Die raamwerk stel ekonomiese beleid en inkomste-vooruitskattings vas en plaas beperkings op staatsbesteding. Regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê elke rand in die begroting, moet ʼn meetbare uitwerking op landsburgers se lewens hê:
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê besoekers se veiligheid is altyd ʼn nasionale prioriteit. Die Amerikaanse konsulaat in Suid-Afrika het die land in ʼn bygewerkte reiswaarskuwing afgradeer na vlak 2, wat besoekers waarsku om versigtig te wees omdat geweldsmisdaad soos gewapende roof, verkragting, voertuigkapings en diefstal algemeen is. Dit waarsku ook dat geweldsmisdaad algemeen in stede voorkom en dat ontvoerders Amerikaanse burgers en ander buitelanders teiken. De Lille sê die land se toerisme-infrastruktuur is goed en veerkragtig en talle veiligheidsmaatreëls is in plek.
# Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling beveel aan dat munisipaliteite konsessie-ooreenkomste met onafhanklike elektrisiteitsverspreiders aangaan. Dit is om instandhoudings- en beleggingsagterstande wat sekerheid van voorsiening ondermyn, aan te pak. Hierdie voorstel is deel van die organisasie se jongste Ekonomiese Opname van Suid-Afrika, wat die elektrisiteitsektor se rol in die land se ekonomiese uitdagings beklemtoon. Die opname toon ook dat hoewel sulke konsessies die nodige beleggings kan lok, is duidelike riglyne vir diensgehalte, toegang en bekostigbaarheid noodsaaklik.
# Die DA in Johannesburg het die burgemeester, Dada Morero, se nuwe ‘bomb squad’-diensleweringspan ‘n publisiteitsfoefie genoem. Die DA-koukusleier, Belinda Kayser-Echeozonjoku, sê dit lyk asof die inisiatief ANC-kaders bevoordeel en nie die inwoners nie. Kayser-Echeozonjoku bevraagteken die grondwetlikheid daarvan en vra vir oorsig en verantwoordbaarheid. Sy het bevestig ‘n mosie van wantroue sal voor die 2026-verkiesing teen Morero ingedien word:
# Die Brasiliaanse president, Luiz Inacio Lula da Silva, beskuldig Israel van volksmoord met voorbedagte rade in Gaza. Hy het tydens ‘n gesamentlike nuuskonferensie met die Franse president Emmanuel Macron in Parys gesê dit wat in die besette Palestynse gebied gebeur, is nie ‘n oorlog nie. Hy noem dit ‘n volksmoord wat deur ‘n hoogs voorbereide weermag teen vroue en kinders gevoer word. Die Franse president het gesê die volgende paar dae sal deurslaggewend wees in die beëindiging van die konflik. Macron sê hy sal, in samewerking met Amerika, meer druk uitoefen om ‘n wapenstilstand te bewerkstellig.
# Gholf: Die Suid-Afrikaners, Herman Loubser en Hennie Otto, loop saam voor na die eerste ronde van die Mopani Zambië Ope by die Nkana-gholfklub in Zambië na hul rondes van vyf onder baansyfer 67. Hulle is een hou voor hul landgenoot en verdedigende kampioen, MJ Viljoen, en die Sweed Fredrik From. Ander voorlopers sluit in nog ʼn Suid-Afrikaner, Warwick Purchase op 69, en die Chileen Tomas Gana. Loubser sê hy is tevrede met sy goeie begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-952-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….