Nuus 06:00
BULLETIN 6 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil hê minister Nkabane moet rekenskap gee van haar gedrag
# Minister Steenhuisen stel sy visie vir landbou bekend
# En tennis: Kgothatso Montjane en Donald Ramphadi haal die eindronde van die Franse Ope
# President Cyril Ramaphosa het die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, versoek om ‘n gedetailleerde verslag te voorsien oor die inhoud en behoorlikheid van haar vergadering met die Parlement. Dit volg nadat die minister gekritiseer is omdat sy kougom geëet en gekou het terwyl sy verlede week voor die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys en Opleiding verskyn het. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die president verwag die minister moet ‘n konstruktiewe verhouding met die komitee vestig in die uitoefening van haar leierskap en aanspreeklikheid:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het ‘n nuwe sewe-pilaar-visie uiteengesit vir die Departement van Landbou, wat ‘n selfstandige portefeulje sal wees. Hy het by die AVI-Afrika-konferensie klem gelê op vennootskappe, die hersiening van wette, toegang tot markte, ondersteuning vir boere, biosekerheid, voorspraak en voedselsekerheid. Steenhuisen het regulatoriese hervorming, pasklaar ondersteuning vir boere, uitgebreide befondsing en hernude entstof-vervaardiging belowe. Hy het ook ‘n raad vir biosekerheid bekendgestel en ‘n beroep gedoen vir verbeterde infrastruktuur om landbou se rol te versterk en ‘n veerkragtige en inklusiewe ekonomie te bou.
# Die Inkatha Vryheidsparty het die toestaan van borgtog vir die beskuldigdes in die moord op die IVP se adjunkhoofsweep, Khethamabala Sithole, verwerp. Sithole is op 31 Mei vermoor. Die provinsiale voorsitter van die IVP in Gauteng, Bonginkosi Dhlamini, het buite die Palm Ridge-landdroshof die owerhede versoek om die volle waarheid te ontbloot. Die saak is tot volgende week vir borgtog uitgestel. Hy het gevra dat die skuldiges aan die pen moet ry:
#Adjunkpresident Paul Mashatile stuur vandag die Clean Cities and Towns-veldtog in Soweto, Gauteng, van stapel. Die projek bevorder skoner, groener stedelike ruimtes en dien as aansporing vir landwye gemeenskapsgedrewe opruimingsaksies. Die veldtog ondersteun ook die regering se breër diensleweringsdoelwitte onder die Distriksontwikkelingsmodel. Mashatile word vergesel deur die Gautengse premier Panyaza Lesufi en die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero. Skoonmaak- en boomplantbedrywighede sal by die Walter Sisulu-plein begin, waar ‘n Toewydingsvlam ook aangesteek sal word.
# Die Afrika-Unie is bekommerd oor ‘n nuwe reisverbod teen die burgers van verskeie lande, terwyl Somaliërs verontwaardig is om een van die sewe Afrikalande te wees wat die Trump-administrasie uitgesonder het. President Donald Trump het ‘n bevel onderteken wat burgers van Somalië, Tsjad, die Demokratiese Republiek die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea, Libië, Soedan, Jemen, Afghanistan, Mianmar, Haïti en Iran verbied om na die VSA te reis. Die AU sê in ‘n verklaring die verbod sal menseverhoudings, opvoedkundige uitruilings, kommersiële betrokkenheid en breër diplomatieke betrekkinge wat oor dekades met Amerika gesmee is, benadeel.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Kgothatso Montjane is deur na die eindronde van die Franse Ope-vroue-rolstoeldubbelspel. Die 39-jarige het saamgespan met Yui Kamiji van Japan om die nommer-een-gekeurde Manami Tanaka van Japan en die Chinees Zhenzhen Shu te verslaan. Montjane is ook deur na die enkelspel-halfeindronde na ‘n oorwinning oor die vierde-gekeurde Ziying Wang van China. Nog ‘n Suid-Afrikaner, Donald Ramphadi, en sy Turkse maat Ahmet Kaplan het die Brit Andy Lapthorne en Sam Schroder van Nederland verslaan om die eindronde van die kwadrupleeg-rolstoeldubbelspel te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-747-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-359-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….