Nuus 17:00
BULLETIN 5 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Snuki Zikalala lei Johannesburg ‘bomb squad’ om dienslewering te verbeter
# Die Black Business Council-beraad fokus vanjaar op die uitdagings van die swart sakesektor
# En, Donald Trump verskerp sy veldtog teen top VSA universiteite
# Die Stad Johannesburg het ‘n sogenaamde ‘Joburg bomb squad’ gestig. Dit is ‘n span wat daarop gemik is om misdaad te bekamp, verordeninge af te dwing en dienslewering te verbeter. Die span word gelei deur die president van die ANC-veteraneliga, Snuki Zikalala, en sluit voormalige stadsbestuurders Blake Mosley-Lefatole, Mavela Dlamini en Trevor Fowler in. Die burgemeester Dada Morero sê die span sal fokus op probleme soos onwettige storting, slaggate en grondbesettings:
# Die Black Business Council se jaarlikse beraad – gemik op die uitdagings van die swart sakesektor en die bevordering van inklusiewe groei – beoog om vanjaar weer ministers in sleutelportefeuljes en sakeleiers in gesprek te bring. Die organisasie se president, Elias Monage, sê die tweedaagse beraad sal veral fokus op die befondsing van swart besighede, sosio-ekonomiese transformasie wat vroue en die jeug ondersteun, en die regering se verbintenis tot ekonomiese inklusiwiteit:
# Build One South Africa het ‘n petisie begin om die bedanking van minister Stella Ndabeni-Abrahams te eis, na aanleiding van haar mislukte leierskap te midde van stygende jeugwerkloosheid. BOSA beskuldig die minister daarvan dat sy klein-, medium- en mikro-ondernemings verwaarloos, met 4,7-miljoen werklose of onopgeleide jongmense. Die BOSA-woordvoerder, Roger Solomons, sê hulle verwerp ook die huidige Ombud-aanstellingsproses en noem dit polities gekompromitteer. Hy dring aan op dringende hervormings om jong entrepreneurs te ondersteun en werkskeppingsgeleenthede te ontsluit.
# President Donald Trump het sy veldtog teen top Amerikaanse universiteite verskerp. Hy het visums opgeskort vir buitelandse studente wat na Harvard kom, en dreig om Columbia se akademiese akkreditasie te onttrek. Trump beweer die instellings se internasionale studente is ‘n nasionale sekerheidsbedreiging, en dat die universiteite antisemitisme op kampus ignoreer en liberale vooroordeel voortsit. ‘n Proklamasie wat vandag deur die Withuis uitgereik is, skort internasionale studente se toegang tot kursusse by Harvard vir ses maande op met bestaande oorsese studente wat hul visums kan verloor.
# Rugby: Die veelsydige Springbok- en Stormers-agterspeler, Sacha Feinberg-Mngomezulu, is gekroon as Suid-Afrika se Speler van die Seisoen in die Verenigde Rugbykampioenskap. Dis die 23-jarige, wat ook al ook al aangewys is as SA Rugby se Jong Speler van die Jaar, se tweede groot rugby-eerbewys. Lede van die media van al vyf VRK-nasies het opgetree as beoordelaars vir hierdie gesogte toekenning. Cameron Hanekom is aangewys as die Volgende Generasie-Speler van die Seisoen. Feinberg-Mngomezulu en Hanekom is ook, saam met Wilco Louw, André Esterhuizen, Jan-Hendrik Wessels, RG Snyman en Marnus van der Merwe, in die seisoen se Elite XV ingesluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-738-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….