Goeie Nuus
BULLETIN 5 Junie 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Wynlandgoed van Stellenbosch, Le Grand Domaine, het vandeesweek twee toptrofees by die 2025 Internasionale Wynuitdaging verower. Ten spyte van strawwe mededinging met internasionale wynreuse uit Bordeaux en Napa, het die kelder weggestap met die Internasionale en Suid-Afrikaanse 2022 Cabernet Sauvignon-trofeë. Die wynmaker, Debbie Thompson, het die toekenning ‘n trotse oomblik vir plaaslike wyn genoem. Bernard Fontannaz, die eienaar, het die wingerdspan en die kelder se sterk vrouespan geloof vir hul uitsonderlike toewyding en vakmanskap.
# Die skrywer Bernardine Evaristo het The Women’s Prize Outstanding Contribution-toekenning gekry. Dis ‘n eenmalige letterkunde-toekenning om die 30ste jaar van die Women’s Prize vir fiksie te vier. Die toekenning vereer haar loopbaan se werk wat haar roman en Booker-pryswenner, Girl, Woman, Other, en Mr. Loverman insluit wat onlangs as ʼn reeks aangepas is en ʼn BAFTA-toekenning gewen het. Women’s Prize se stigter en direkteur, Kate Mosse, sê regdeur haar 30 jaar in die literêre wêreld was Evaristo ʼn magtige stem vir insluiting en groter verteenwoordiging in letterkunde en kuns.
# Stud Game Breeders het beurse van 900-duisend-rand aan studente van die Tshwane-universiteit vir Tegnologie in die Departement van Natuurbewaring toegeken. Die beurse is aan 52 studente oorhandig wat verskeie kwalifikasies volg, insluitend diploma’s in Natuurlewebestuur en Natuurbewaring, ‘n nagraadse diploma in Bewaringsbestuur en ‘n meestersgraad in Toegepaste Wetenskappe asook doktorsgraadprogramme. Die Stud Game Breeders se transformasiefonds het tot op hede 317 beurse toegeken, wat in totaal meer as 9,5-miljoen-rand beloop.
# Die Universiteit van Pretoria het personeellede en departemente gelukgewens wat benoem is as finaliste in die 27ste Nasionale Wetenskap en Tegnologie Forum-South32-toekennings. Die toekennings wat as die “Wetenskap Oscars” bekend staan, gee erkenning aan buitengewone bydraes tot wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en vernuwing. Die universiteitspersoneel en -departemente is in verskeie kategorieë benoem, insluitend Groen Ekonomie, die Landbounavorsingsraad-toekenning en Kommunikasie. Die toekenningseremonie vind volgende maand plaas.
# Bekendes soos Elton John, die EMPIRE-stigter en uitvoerende hoof, Ghazi Shami, en die afrobeats-superster, Tems, is by Billboard se eerste Global Power Players-geleentheid in Londen vereer. Die geleentheid vier leiers in die musiekbedryf van reg oor die wêreld. John het die Skepperskampioen-toekenning ingepalm, omdat hy hom beywer vir die kreatiewe bedryf, en vra vir regverdige gebruik van en beskerming vir houers van musiekregte teen kunsmatige intelligensie-modelle. Shami het die gesogte Clive Davis Visionary-toekenning gekry terwyl Tems die Diamant-toekenning opgeraap het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….