Nuus 11:00
BULLETIN 5 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê die ANC verskerp sy aanslag op privaat eiendomsreg
# Die direkteur-generaal van Water en Sanitasie sê die land staar ‘n dreigende waterkrisis in die gesig
# En die VSA veto ‘n VN-Veiligheidsraadresolusie vir ‘n wapenstilstand in Gaza
# Die landbou-organisasie TLU SA sê die Wysigingswetsontwerp op Kopiereg en die Wysigingswetsontwerp op die Beskerming van Uitvoerende Kunste is niks minder nie as ‘n voortsetting van die sistematiese aanval op privaat eiendomsregte in Suid-Afrika. Die twee wetsontwerpe is deur die ANC by die Parlement ingedien. Bennie van Zyl van die TLU waarsku dat die wetsontwerpe, onder die dekmantel van sogenaamde billike gebruik en beskerming, geskep is om ontasbare bates soos kopiereg en intellektuele eiendom te nasionaliseer:
# Die direkteur-generaal van die Departement van Water en Sanitasie, Sean Phillips, sê Suid-Afrika staan op die rand van ‘n ernstige waterkrisis, met verouderde infrastruktuur, swak regering en onderbelegging wat kommer wek. Inwoners verduur steeds landwyd droë krane en onbetroubare watertoevoer. Phillips waarsku dat dringende optrede nodig is om ‘n volskaalse krisis te voorkom met die land wat sukkel om sy watertoekoms te verseker:
# Die selfverklaarde profeet, Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary Bushiri, het ‘n hersieningsaansoek by die Malawiese Hooggeregshof ingedien om die uitspraak oor hul uitlewering aan Suid-Afrika te verwerp. Die egpaar het in 2020 na Malawi gevlug nadat hulle hul borgtogvoorwaardes oortree het, wat tot Suid-Afrika se uitleweringsversoek gelei het. Hulle staar talle aanklagte in die gesig, onder meer vir bedrog en geldwassery. Die egpaar sê dit sal onregverdig of onderdrukkend wees om hulle aan Suid-Afrika uit te lewer.
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad kon nie ʼn resolusie aanvaar vir ʼn onmiddellike en permanente skietstilstand in Gaza nie, omdat Amerika dit geveto het. Die resolusie eis ook die vrylating van alle gyselaars wat Hamas aanhou, en die veilige en ongehinderde verspreiding van humanitêre hulp aan Gaza. Die waarnemende Amerikaanse ambassadeur by die VN, Dorothy Shea, sê Amerika sal nie enige maatreël steun wat nie eis dat Hamas ontwapen word en Gaza verlaat nie:
# Gholf: Die wêreld se nommer een, Scottie Scheffler, het sy plek in die Amerikaanse Ryderbeker-span van 2025 verseker en hy is die eerste outomatiese kwalifiseerder vir die tweejaarlikse kompetisie wat by Bethpage Black in Long Island, New York, plaasvind. Dit is die 28-jarige se derde agtereenvolgende Ryderbeker-verskyning. Vyf ander kwalifiseerders, plus ses spelers wat deur die VSA-kaptein, Keegan Bradley, gekies is, sal hulle by Scheffler aansluit. Hy sê hy sal alles in sy vermoë doen om die span te help om weer die beker van die Europese span te herower.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-540-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-369-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….