Nuus 06:00
BULLETIN 5 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana wag vir ‘n Reserwebank- en staande komitee-verslag voordat hy die inflasieteiken aanpas
# Julius Malema sê hy is min gepla deur Floyd Shivambu se terugkeer na die Parlement
# En die Britse premier sê Israel se militêre optrede in Gaza is afgryslik
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê hy wag vir ‘n inflasieverslag vanaf die Parlement se Staande Komitee oor Finansies en die Reserwebank voor hy standpunt sal inneem oor ‘n moontlike verandering aan Suid-Afrika se inflasieteiken-raamwerk. Die komitee en die Reserwebank hersien die huidige drie- tot ses-persent-teiken, wat sedert 2000 onveranderd gebly het. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, ondersteun die aanpassing na ‘n teiken van drie-persent. Godongwana sal ‘n verklaring uitreik sodra die hersieningspaneel sy verslag ingedien het.
# Die EFF-leier Julius Malema sê hy het vrede met Floyd Shivambu se herontplooiing na die Parlement deur die MK-party. Malema het buite die huis van die ontslape akteur Presley Chweneyagae na die kwessie verwys en gesê hy sal nie by Shivambu se sake inmeng nie. Dit volg na Shivambu as sekretaris-generaal verwyder is en nou net ‘n gewone lid van die Parlement is. Malema sê die Parlement word nou deur jongmense bestuur en as Shivambu probeer om sy gewig rond te gooi, is hulle reg vir hom:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys het studente van die Walter Sisulu-universiteit gewaarsku ‘n meningsverskil oor ‘n hofuitspraak regverdig nie misdadige optrede wat openbare veiligheid ondermyn nie. Drie studente is gister in hegtenis geneem na nog ‘n betoging. Dit volg nadat die koshuisbestuurder, Manelisi Mampane, wat beskuldig word van die moord op ‘n student, Sisonke Mbolekwa, Dinsdag deur die Mthatha-landdroshof op borgtog van tienduisend-rand vrygelaat is. Die voorsitter van die komitee, Tebogo Letsie, sê studente moet hul emosies opbouend en binne die wet rig.
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het die oorlog in Gaza beskryf as ‘n afgryslike en ondraaglike situasie. Ten minste 54-duisend-381 mense is in Gaza dood sedert Hamas se dodelike aanval in Israel op 7 Oktober 2023. Vier-duisend-117 mense is dood sedert Israel sy aanvalle in Gaza op 18 Maart vanjaar hervat het. Starmer het gister in die Laerhuis gesê Brittanje is sterk gekant teen Israel se uitgebreide militêre optrede en setlaargeweld, en die blokkering van humanitêre hulp:
# Tennis: Die Franse sprokiesverhaal vir die 22-jarige wêreldnommer 361 Lois Boisson duur voort nadat sy gister die sesde-gekeurde Mirra Andreeva met 7-6, 6-3 geklop het om die halfeindronde van die Franse Ope te haal. Sy speel vandag teen die tweede-gekeurde Coco Gauff. In die ander halfeindronde kom die topgekeurde Aryna Sabalenka teen die vyfde-gekeurde Iga Swiatek van Pole te staan. Swiatek loop 8-4 voor in wedstryde teen Sabalenka en 5-1 op klei. Dit sal hul eerste kragmeting op Roland Garros wees. Swiatek is nou onoorwonne in 26 agtereenvolgende wedstryde by die Franse Ope.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-742-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-378-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Die GOOD-party herdenk die gevierde jazzfotograaf, Rashid Lombard, vir sy toewyding aan inklusiwiteit en ontwikkeling. Lombard word beskryf as ‘n kulturele ikoon. Hy is die stigter van die Kaapstad Internasionale Jazzfees. Die 74-jarige het gehelp om Kaapstad se wêreldprofiel te verhoog terwyl hy plaaslike geleenthede geskep het. As ontvanger van die Orde van Ikhamanga in Silwer, het hy ook Suid-Afrika se demokratiese reis deur kragtige fotojoernalistiek gedokumenteer. Die party sê sy nalatenskap sal vir toekomstige geslagte by die Universiteit van Wes-Kaapland behoue bly.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….