Nuus 18:00
BULLETIN 4 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus waarsku teen ‘n krisis in die rooivleisbedryf
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling maak vordering met ‘n basiese inkomstebeleid
# En, tennis: die Franse sprokiesverhaal leef voort met Lois Boisson wat die halfeindronde van die Franse Ope haal
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika se rooivleisbedryf staar ‘n krisis in die gesig nadat bek-en-klouseer by ‘n Karan Beef-voerkraal in Gauteng ontdek is. Die onderneming het sy vee-aankope tydelik gestaak en dit ontwrig voorsieningskettings in die land. Wynand Boshoff van die VF Plus gee swak siektebeheer en die regering se gebrek aan dringendheid die skuld, omdat meer as 300 gevalle binne vyf jaar aangeteken is:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hy vorder met die befondsing van ‘n basiese inkomste-ondersteuningsbeleid vir mense tussen 18 en 59. Die departement het die Parlement se portefeuljekomitee ingelig en gesê die eerste beplanning is verlede jaar aan die kabinet voorgelê en verdere raadpleging word beplan om bekostigbaarheid te verseker. Bathembu Futshane van die departement sê daar sal volgende maand ‘n opvolg-slypskool gehou word, waarna die beleid weer aan die kabinet voorgelê sal word vir goedkeuring en openbare kommentaar:
# Die regering het die gewelddadige betogings by die Mthatha-kampus van die Walter Sisulu Universiteit in die Oos-Kaap sterk veroordeel, nadat borgtog toegestaan is aan ‘n waarnemende koshuisbestuurder, Manelisi Mampana, wat aangekla is vir ‘n student se skietdood. Betogers het die N2-snelweg versper met brandende bande, dienste ontwrig en lewens in gevaar gestel. Die regering ondersteun die reg om te betoog maar versoek studente om vreedsaam betrokke te raak. Owerhede doen ‘n beroep op studenteleiers en -bestuur om die kalmte te herstel en die oppergesag van die reg te handhaaf.
# Die Iranese opperleier, Ajatollah Ali Khamenei, sê ‘n Amerikaanse voorstel vir ‘n kernooreenkoms is teen die nasionale belang, te midde van ernstige verskille oor uraanverryking deur Teheran. Die aartsvyande het sedert April vyf keer ontmoet om ‘n ooreenkoms te sluit om die een te vervang wat die Amerikaanse president Donald Trump tydens sy eerste termyn in 2018 gekanselleer het. Khamenei het in ‘n televisietoespraak gesê die jongste Amerikaanse voorstel is heeltemal teen die ideale van die Islamitiese rewolusie van 1979.
# Tennis: Die Franse sprokiesverhaal vir die 22-jarige promotorskeuse en nommer 361 op die ranglys, Lois Boisson, leef voort. Sy het die sesde gekeurde Mirra Andreeva met 7-6, 6-3 geklop om die halfeindronde van die Franse Ope te haal. Boisson het die derde gekeurde Jessica Pegula in die rondte van 16 in haar eerste Grand Slam-toernooi geklop. Sy speel nou teen die tweede gekeurde Coco Gauff in môre se eerste halfeindronde. Die Amerikaner het van ‘n stel agter teruggeveg om die Australiese Ope-kampioen Madison Keys met 6-7, 6-4, 6-1 te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-692-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-364-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….