Nuus 13:00
BULLETIN 4 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA doen beroep op polisie om voorkeur te gee aan kinderveiligheid
# Cosatu sê regering moet belofte nakom en verskeie brandstofbelastings hersien
# En, krieket: Kohli vier IPL-oorwinning saam met AB de Villiers en aanhangers
# ActionSA doen ‘n beroep op die polisie om die veiligheid van kinders onmiddellik voor op te stel. Die party vra vir vinnige, gekoördineerde optrede op aanmeldings van vermiste kinders, en om gespesialiseerde kinderbeskermings- en geslagsgeweld-ondersoekeenhede weer in te stel. Die Gautengse polisie het ‘n klopjag na verdagtes van stapel gestuur nadat die 14-jarige Lukhona Fose in Durban Deep, Roodepoort, vermoor is. Elmari Atterbury van ActionSA sê alle Suid-Afrikaners verdien om in veilige gemeenskappe te woon:
# Cosatu sê die regering moet sy beloftes van 2018 en 2022 nakom en die talle brandstofbelastings en -heffings hersien wat sowat ‘n derde van die brandstofprys uitmaak. Die verhoging in die brandstofheffing het ingetree nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die EFF se aansoek om dit op te skort, verwerp het. Cosatu-woordvoerder Matthew Parks sê dis ook belangrik dat Eskom bygestaan word om die huidige toenemend onbekostigbare elektrisiteitsprys te verlaag:
In ander belastingnuus sê die Biervereniging van Suid-Afrika waarsku dat hoë aksynsbelasting verbruikers na onwettige alkohol dryf. Tydens die 2025 Afrika-brouery konferensie het die uitvoerende hoof van BASA, Charlene Louw, dringende belastingverligting versoek, en daarop gewys dat 38-persent van die prys van bier aan belasting afgestaan word. Sy het die belangrike ekonomiese rol van bier beklemtoon, insluitend die voorsiening van meer as 210-duisend werksgeleenthede terwyl dit 94-miljard rand tot die bruto binnelandse produk bydra. Sy vra dat die belastingbeleid in ooreenstemming met ekonomiese realiteite gebring word om werksgeleenthede te beskerm en onwettige handel te beveg.
# China beskou die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, se opmerkings dat die wêreld nooit die Tiananmen-plein-slagting in 1989 sal vergeet nie, as ‘n opsetlike aanval op China. Die woordvoerder, Lin Jian, sê Rubio se stellings verdraai die geskiedkundige feite op ‘n wraaksugtige manier, val doelbewus China se politieke stelsel en pad na ontwikkeling aan, en meng in met China se interne sake. Hy sê China het protes by die VSA aangeteken.
# Krieket: Virat Kohli sê die oorwinning was vir homself maar ook vir die ondersteuners nadat hy uiteindelik die IPL met sy 18de poging gewen het. Bengaluru se ekstatiese ondersteuners wag om hulle held met ‘n oorwinningsparade te verwelkom. Royal Challengers Bengaluru het die Punjab Kings gister met ses lopies in ‘n naelbyt-IPL-eindstryd geklop. Die 36-jarige Kohli, die enigste speler wat 18 jaar vir dieselfde IPL-span speel, het gepas die meeste lopies, 43, aangeteken. Suid-Afrika se afgetrede kolfheld AB de Villiers, wat by eindstryd was, het tien jaar saam met Kohli vir Bengaluru gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-699-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-361-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….