Nuus 18:00
BULLETIN 3 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Brandstofpryse daal môre effens
# Die MK-party herontplooi Floyd Shivambu oor ‘n ongemagtigde besoek aan Malawi
# En, Action Society is woedend oor ‘n polisieman wat sy drie kinders doodgeskiet het se nuwe paroolaansoek
# Daar sal vanaf môre ‘n effense daling in brandstofpryse wees, ten spyte van ‘n verhoging in die brandstofheffing. Die Departement van Petroleum en Minerale Hulpbronne het aangekondig petrol sal met vyf-sent per liter daal, diesel met 37-sent, paraffien met 56-sent en lampolie met 89-sent per kilogram. Die Direkteur van Brandstofpryse by die Departement van Energie, Robert Maake, sê hierdie veranderings weerspieël ‘n sterker rand en wêreldwye verskuiwings in oliepryse. Hy het bevestig aangepaste vervoertariewe is ook in aangewese gebiede van toepassing:
# Die MK-party het die herontplooiing van sy sekretaris-generaal, Floyd Shivambu, na die Parlement aangekondig. Dit volg nadat Shivambu ‘n ongemagtigde reis na Malawi onderneem het, wat volgens die party sy grondwet geskend het. Die besoek hou verband met Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, se uitleweringsaak. Nathi Nhleko, wat die verklaring namens partyleier Jacob Zuma gelees het, sê Shivambu, wat omvattende parlementêre ervaring het, het die herontplooiing aanvaar:
# Action Society sê hulle is woedend dat die gewese Kaapstadse polisieman, Marius van der Westhuizen, weer mag aansoek doen vir parool. Hy is in 2006 skuldig bevind aan die moorde op sy drie kinders. Parool is in Junie verlede jaar aan Van der Westhuizen toegestaan, maar na formele hersiening teruggetrek deur die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald. Kaylynn Palm van Action Society sê die nuwe aansoek is onregverdig teenoor die kinders se ma, Charlotte van der Westhuizen, sowel as die publiek:
# Die regspan van ‘n Australiese vrou wat van moord aangekla is nadat drie mense gesterf het weens haar tuisgemaakte kos, het die sterftes ‘n aaklige ongeluk genoem. Erin Patterson, wat vandag getuig het, het glo op 23 Julie 2023 beef wellington – wat dodelike duiwelsbrood-sampioene bevat het – by haar huis in Victoria voorberei. Haar vervreemde man se ouers en sy tannie is dood daarvan, maar sy oom het oorleef. Die staat voer aan dat die 50-jarige Patterson die giftige sampioene met opset gebruik het, maar sy betwis dit. Sy getuig môre verder.
# Tennis: Die wêreld se nommer een-speler, Aryna Sabalenka, het die Olimpiese kampioen Zheng Qinwen se wenstreek op die Paryse kleibaan beëindig met ‘n oorwinning in skoonstelle om ‘n plek vir haarself te verseker in die Franse Ope-halfeindronde. Die topgekeurde van Belarus het die agtste gekeurde speler van China in net minder as twee ure verslaan. Die 27-jarige Sabalenka het verlede maand in die kwarteindronde op klei in Rome teen Zheng verloor, maar loop nou met sewe oorwinnings teen een voor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-980-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-347-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….