Nuus 17:00
BULLETIN 3 Junie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag bevestig die Moroadi Cholota-uitspraak sal nie die asbesdak-korrupsieverhoor ontspoor nie
# Adjunkministers vra die publiek om tiener se moordenaar te help vind
# En, die Paarl-gemeenskap vind die liggaam van ‘n vrou in die bosse
# Mthunzi Mhaga van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die Hooggeregshof in Bloemfontein se uitspraak ten gunste van Moroadi Cholota sal nie die oorblywende beskuldigdes se korrupsieverhoor, wat môre begin, beïnvloed nie. Die hof het bevind dat Cholota se uitlewering onregmatig is. Sy was – saam met Ace Magashule – een van 18 beskuldigdes in die asbesdak-korrupsieverhoor. Mhaga sê die NVG het volle vertroue in hulle saak en aanklaers het eties opgetree gegewe die beskikbare bewyse:
# Die regering vra die publiek om die polisie te help om diegene wat verantwoordelik is vir die moord op die 14-jarige Likhona Fosa in Roodepoort, Gauteng op te spoor. Die adjunkminister vir Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Steve Letsike, en die adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, het vandag die toneel in Durban Deep besoek waar die jong meisie se verminkte liggaam gevind is. Hulle het ook haar gesin besoek. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê diegene wat verantwoordelik is, moet aanspreeklik gehou word:
In die Paarl is die liggaam van ‘n vrou na ‘n soektog deur die gemeenskap in ‘n bos begrawe gevind. Die soektog is begin nadat ‘n skoen in die bos gevind is. Die Wes-Kaapse polisie doen nou DNS-toetse om te bepaal of dit die liggaam is van die 16-jarige Chanelle Plaatjies, wat sedert verlede Woensdag vermis word. Volgens berigte het haar ma haar nie as vermis aangemeld nie, omdat sy gedink het sy sou huis toe kom. Die ondersoek duur voort.
# Reddingswerkers sê die Israeliese weermag het vandag minstens 27 mense naby ‘n VSA-gesteunde hulpsentrum in Gaza doodgeskiet. Die weermag voer egter aan hulle het geskiet op verdagtes wat in hul troepe se rigting beweeg het. ‘n Soortgelyke skietery Sondag in dieselfde gebied het tientalle Palestyne wat hulp gesoek het, dood en gewond gelaat. Die VN se hoof van menseregte het die aanvalle veroordeel, en sê dis ‘n skending van internasionale reg en ‘n oorlogsmisdaad. Die Israeliese weermag het aangekondig dat drie soldate in die noorde van Gaza dood is.
# Rugby: Die Stormers-slot Ruben van Heerden is as die Verenigde Rugbykampioenskap se duikslagmasjien vir 2025 gekroon. Die toekenning vier die beste verdediger wat ten minste 150 duikslae gemaak het. Van Heerden is boaan die lys met 171 duikslae en ‘n sukseskoers van 98-persent. Die Haaie se losvoorspeler, Phepsi Buthelezi, is die volgende Suid-Afrikaner op die lys met ‘n derde plek. Die Stormers-heelagter, Warrick Gelant, beklee die tweede posisie op die Spelmaker-toekenningspuntelys na Munster se Tom Farrell. Jordan Hendrikse, losskakel by die Haaie, het tweede geëïndig in die Goue Stewel-kategorie, terwyl die Gauteng Leeus-heelagter Quan Horn kan spog met ‘n derde plek in die Spelmaker-toekenningswedloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-502-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-354-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….