Nuus 13:00
BULLETIN 6 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom het beurtkrag opgehef tot later vanmiddag
# Minister Nzimande verwerp wat hy noem, kwaadwillige bewerings, in uitgelekte verslag van die Organisasie teen Belastingmisbruik
# En, President Ramaphosa staan ‘n spesiale provinsiale begrafnis toe aan die befaamde fotograaf en anti-apartheidsakitivis Peter Magubane.
# Eskom het beurtkrag van tienuur tot vieruur vandag opgehef danksy laer-as-verwagte kragverbruik en ‘n effense verbetering in opwekkingskapasiteit. Fase twee en drie beurtkrag is Dinsdag en Woensdag ingestel nadat dit vir ‘n ónonderbroke tydperk van 18 dae opgehef was. Eskom se woordvoerder, Daphen Mokwena, doen ‘n beroep op Suid-Afirkaners om krag steeds spaarsamig en doeltreffend te gebruik, wat die afskakeling van geysers en swembadpompe insluit, omdat dit help om die vraag te verminder.
# Die South African Union of Students sê dit lyk asof die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, Blade Nzimande ‘n misdadige sindikaat bedryf het, gelei deur die raadsvoorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khoza. Dit volg ná die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa, vir Nzimande en Khoza beskuldig het dat hulle NSFAS as ‘n kontantkoei gebruik en hulle eie geldmaaksindikaat geskep het. Die woordvoerder van die studente-organisasie, Asive Dlanjwa, sê hulle het oënskynlik ‘n instelling gekaap wat veronderstel is om studente uit armoede en lyding te help en hulleself en hulle makkers verryk:
Intussen het minister Blade Nzimande, wat hy noem, die kwaadwillige bewerings in ‘n uitgelekte verslag van die Organisasie teen Belastingmisbruik, verwerp. Nzimande het die publiek verder verseker hy het nog nooit enige geld van die departement se instellings gebruik om die Suid-Afrikaanse Kommunistaprty te befonds nie. Die departement se woordvoerder, Veli Mbele, sê die minister bestempel die bewerings in die uitgelekte verslag as roekeloos en grootliks gebaseer op ‘n skinderveldtog en meen dit is ‘n poging om die gladde begin van die 2024 akademiese jaar te ondermyn.
# Rugby: Die Engelse kaptein en losskakel Owen Farrell gaan hom volgens mediaberigte moontlik by die Franse Top-14-span, Racing-92 aansluit. Dit beteken die span slaan nóg ‘n groot slag, ná die aankoms, vroeër, van Suid-Afrika se kaptein en tweemalige Wêreldbekerwenner, Siya Kolisi. Koerantberigte lui die 32-jarige Farrell gaan in die komende seisoen ‘n ooreenkoms van twee tot drie jaar sluit. Farrell wat 112 keer vir Engeland uitgedraf het, gaan Saracens verlaat en hom by die Paryse klub aansluit wat deur die voormalige Engelse afrigter Stuart Lancaster, afgerig word.
# En, om dié bulletin mee af te sluit: President Cyril Ramaphosa het ‘ spesiale amptelike provinsiale begrafnis kategorie-2 toegestaan aan die befaamde fotograaf en anti-apartheidsakitivis Peter Magubane. Hy is op Nuwejarsdag in die ouderdom van 91 oorlede. Ramaphosa het ook opdrag gegee dat die nasionale vlag in Gauteng uit respek vir Magubane, halfmas hang op die dag van sy begrafnis. Die premier, Panyaza Lesufi se woordvoerder, Sizwe Pamla, sê die spesiale provinsiale begrafnisdiens vind Woensdag plaas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….