Nuus 13:00
BULLETIN 3 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof beslis Moroadi Cholota se uitlewering in die Ace Magashule korrupsie-saak was onwettig
# Die Nasionale Mynwerkersunie beskuldig Eskom van bevoordeling met ‘n batterybergingstender
# En, die Nederlandse koalisie-regering val uitmekaar na die ver-regse leier sy party onttrek
# Die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein het beslis dat die uitlewering van Ace Magashule se voormalige persoonlike assistent, Moroadi Cholota, onwettig was, en dat die hof geen jurisdiksie het om haar te verhoor in die asbesdak-korrupsiesaak nie. Regter Philip Loubser het bevind dat die Staat die Amerikaanse owerhede mislei het, en Cholota valslik uitgebeeld het as ‘n voortvlugtige. Die regter het benadruk dat slegs die minister van justisie, en nie die Nasionale Vervolgingsgesag nie, regtens kan aansoek doen om uitlewering.
# Die Nasionale Mynwerkersunie veroordeel die toeken van ‘n tender vir ‘n batterybergingsprojek ter waarde van 9,5 miljard-rand aan Mulilo Energy, onder voorsitterskap van die voormalige Eskom-bedryfshoof, Jan Oberholzer. Die vakbond sê dit kom neer op ‘n ernstige belangebotsing en ondermyn openbare vertroue. Khangela Baloyi van NUM vra dat die transaksie geskrap moet word en die tenderproses ondersoek moet word. Die vakbond wil ook weet of die proses voldoen het aan transformasiewetgewing.
# Die ver-regse Nederlandse leier, Geert Wilders, het sy party uit die regering onttrek na twis oor immigrasie, wat die wankelrige koalisie tot ‘n val gebring het en waarskynlik tot ‘n vinnige verkiesing gaan lei. Wilders is gefrustreerd met wat hy beskou as die stadige tempo met die instelling van ‘n streng immigrasiebeleid, wat na sy verkiesing in 2023 met koalisievennote ooreengekom is. As gevolg van die onttrekking gaan die Europese Unie se vyfde grootste ekonomie nou ‘n tydperk van politieke onsekerheid binne, net ‘n paar weke voor Nederland wêreldleiers vir ‘n NAVO-beraad verwelkom.
# Rugby: Die Springbok-vroue se veelsydige voorspeler, Lerato Makua, sê sy is vasbeslote om ‘n impak te maak in die Afrika-vrouebeker in Madagaskar wat Saterdag begin. Suid-Afrika wil hulle titel teen Uganda, Kenia en die gasvroue Madagaskar by die Stade Makis in Antananarivo verdedig. Makua, wat na ‘n kniebesering terugkeer, sê dit is ‘n geleentheid vir haar om te wys dat sy fiks en gereed is om later vanjaar in die Wêreldbeker te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-123-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-67-sent per vat.
# En laastens, die Wêreld Meteorologiese Organisasie voorspel dat wêreldtemperature tussen 2025 en 2029 waarskynlik alle rekords gaan oortref. Die organisasie sê daar is ‘n 80-persent moontlikheid dat temperature in minstens een van daardie jare, 2024 as die warmste jaar ooit gaan oortref. Daar is ook ‘n 86-persent waarskynlikheid dat voor-nywerheidsvlakke binne ‘n jaar ‘n styging van 1.5-grade Celsius sal toon. Die organisasie sê hierdie neiging verhoog die gevaar van uiterste weerstoestande, insluitend hittegolwe, droogtes en stygende seevlakke, wat samelewings en ekonomieë wêreldwyd gaan beïnvloed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….