Nuus 16:00
BULLETIN 2 Junie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Water en Sanitasie waarsku infrastruktuur word doelbewus beskadig vir tenders
# BOSA dring aan op dringende toetsing vir alle polisielede teen die seksoortredingsregister
# En, die Departement van Hoër Onderwys erken tekortkominge terwyl TVET-instellings onderbefonds bly
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê infrastruktuur word doelbewus beskadig om tenders te bekom. Haar uitspraak volg nadat Rand Water vandag beplande instandhoudingswerk in Gauteng afgehandel het. Die instandhouding is daarop gemik om langtermyn, ononderbroke watervoorsiening te verseker. Majodina sê haar departement is voortdurend in gesprek met munisipaliteite, en het opdrag gegee dat watertenkwaens slegs in noodgevalle gebruik mag word om die watertenkwa-mafia se bedrywighede hok te slaan.
# Build One South Africa doen ‘n beroep op polisieminister Senzo Mchunu om alle polisielede dringend binne die volgende drie maande teen die seksoortredersregister na te gaan. Die oproep kom nadat dit aan die lig gekom het dat minder as 0,14-persent van polisiepersoneel hierdie toets ondergaan het. BOSA eis ook ‘n volledige oudit van vorige en huidige personeel om potensiële oortreders te identifiseer. Roger Solomons van BOSA sê vertroue in die polisie is onmoontlik sonder behoorlike keuring, veral te midde van die krisis met seksuele geweld:
# Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het erken dat hulle nie voldoende ondersteuning aan tegniese en beroepsonderwys- en opleidingskolleges verskaf het nie. Hierdie erkenning volg op groeiende kommer oor onvoldoende befondsing, infrastruktuur en studentedienste regoor die sektor. Die minister, Nobuhle Nkabane, sê die departement is in gesprek met belanghebbendes om strategieë te ontwikkel wat daarop gemik is om TVET-instellings – wat noodsaaklik is vir vaardigheidsontwikkeling en indiensneming – te versterk. Sy het beklemtoon dat TVET-kolleges gegradueerdes oplewer wat mededingend in die arbeidsmark is.
# Brittanje het aangekondig dat hy 12 nuwe aanvalsduikbote gaan bou. Die land het ‘n groot verdedigingshersiening van stapel gestuur wat die land meer oorlogsgereed sal maak. Die eerste minister, Keir Starmer, waarsku dat die bedreigings wat die land nou in die gesig staar, ernstiger, meer onmiddellik en meer onvoorspelbaar is as sedert die Koue Oorlog. Hy het oorlog in Europa, nuwe kernkragrisiko’s, daaglikse kuberaanvalle en toenemende Russiese aggressie gelys as bedreigings.
# Krieket: Die Protea-kolwer Heinrich Klaasen het uitgetree uit alle formate van internasionale krieket. Dis ‘n groot slag vir Suid-Afrika, mede-gasheer vir die 2027 Wêreldbeker, waar hy waarskynlik ‘n groot trekpleister sou wees. Die 33-jarige Klaasen is een van die wêreld se mees vernietigende kolwers in witbalkrieket. Hy sê die besluit maak dit vir hom moontlik om meer tyd saam met sy familie deur te bring. Klaasen sal waarskynlik steeds ‘n mate van teenwoordigheid behou in internasionale T20-krieketkringe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-944-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….