Nuus 15:00
BULLETIN 2 Junie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA lê grondwetwysigings ter tafel om onwettige immigrasie aan te pak
# BOSA dring aan op die dringende toetsing van alle polisielede teen die seksoortredingsregister
# En, meer as 1,67-miljoen jeugwerksgeleenthede is glo reeds deur die presidensiële program geskep
# ActionSA sê die Grondwet moet gewysig word om onwettige immigrante se misbruik van openbare dienste stop te sit. Die party het voorgestelde veranderings ingedien om toegang tot behuising, gesondheidsorg en onderwys te beperk tot slegs burgers en wettige inwoners. Die party vra ook die hersiening van die frase ‘Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon’ aangesien hy voel dit word verkeerd geïnterpreteer. Athol Trollip van ActionSA sê hierdie veranderings is nodig om beperkte staatshulpbronne te beskerm en voorrang te gee aan Suid-Afrikaners se behoeftes.
# Build One South Africa doen ‘n beroep op polisieminister Senzo Mchunu om alle polisielede dringend binne die volgende drie maande teen die seksoortredersregister na te gaan. Die oproep kom nadat dit aan die lig gekom het dat minder as 0,14-persent van polisiepersoneel hierdie toets ondergaan het. BOSA eis ook ‘n volledige oudit van vorige en huidige personeel om potensiële oortreders te identifiseer. Roger Solomons van BOSA sê vertroue in die polisie is onmoontlik sonder behoorlike keuring, veral te midde van die krisis met seksuele geweld:
# Die adjunkminister in die Presidensie, Nonceba Mhlauli, sê die regering se jeugwerkverskaffingsprogram maak bestendige vordering. Sy het tydens ‘n mediakonferensie gesê dat meer as 76-duisend inkomstegeleenthede tussen Januarie en Maart vanjaar geskep is, wat die totaal op meer as 1,67-miljoen te staan bring sedert die program begin is. Volgens Mhlauli is meer as 4,7-miljoen jongmense nou op die netwerk geregistreer:
# Russiese en Oekraïense amptenare sal vandag in Istanbul vergader om planne uit te ruil oor hoe om die drie jaar lange oorlog, Europa se grootste sedert die Tweede Wêreldoorlog, te beëindig. Dit volg nadat Kiëf gesê het hy het een van sy suksesvolste aanvalle uitgevoer toe hy bomwerpers by lugmagbasisse in Rusland getref het. Die Amerikaanse president Donald Trump, het Moskou en Kiëf aangespoor om vir die eerste keer sedert kort nadat die inval begin het, direk met mekaar te onderhandel. daar is egter nog nie noemenswaardige vordering gemaak oor ‘n ooreenkoms nie.
# Krieket: Die Protea-kolwer Heinrich Klaasen het uitgetree uit alle formate van internasionale krieket. Dis ‘n groot slag vir Suid-Afrika, mede-gasheer vir die 2027 Wêreldbeker, waar hy waarskynlik ‘n groot trekpleister sou wees. Die 33-jarige Klaasen is een van die wêreld se mees vernietigende kolwers in witbalkrieket. Hy sê die besluit maak dit vir hom moontlik om meer tyd saam met sy familie deur te bring. Klaasen sal waarskynlik steeds ‘n mate van teenwoordigheid behou in internasionale T20-krieketkringe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-275-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-352-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….