Nuus 13:00
BULLETIN 2 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Justisie stig ‘n vrouemoord-moniterings-inisiatief
# Die DA verwerp minister Groenewald se verskuiwing van blaam na die verdwyning van misdadigers
# En, 25 mense is vermoor in Nigeriese grondgeskille
# Die Departement van Justisie ontwikkel ‘n vrouemoord-inisiatief om geslagsgeweld die hoof te bied. Die hoof van die Bevordering van die Regte van Kwesbare Groepe, Praise Kambula, het die behoefte aan verbeterde ondersoek- en vervolgingstelsels beklemtoon om sulke misdade te bestry. Sy het teenoor SABC News beklemtoon dat die inisiatief daarop gemik is om data in te samel om voorkomingstrategieë en ingryping te versterk, wat die veiligheid van vroue in Suid-Afrika verbeter:
Die DA verwerp die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, se reaksie waarin hy die Wes-Kaapse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling die skuld gee vir die verdwyning drie veroordeelde misdadigers uit aanhouding. Die mans is skuldig bevind aan moord, verkragting en roof en is ná ‘n bevel van die Hooggeregshof in Kaapstad na die Pollsmoor-jeugsorgsentrum oorgeplaas weens ‘n aanval op ‘n jeugsorgwerker verlede jaar. Nicholas Gotsell van die DA sê een van hulle is in April aangekeer, en nog een verlede week, maar die derde een word steeds gesoek.
# Gewapende aanvallers het die naweek 25 mense doodgemaak in twee aanvalle in die noord-sentrale Benue-staat in Nigerië. Dit is die jongste aanval in ‘n streek waar grondgeskille en vergelding dikwels tot dodelike geweld lei. Aanvallers het gister 14 mense in die Ankpali-gemeenskap doodgemaak. Nomadiese Fulani-herders van Moslem-etniese afkoms bots lank reeds met gevestigde boere, waarvan baie Christene is, oor toegang tot grond en grondstowwe. Volgens Amnestie Internasionaal se jongste verslag is ses-duisend-896 mense die afgelope twee jaar in Benue vermoor.
# Krieket: Suid-Afrika het volgens berigte die voormalige Engelse snelbouler, Stuart Broad, as konsultant aangestel voor die Wêreldtoetskampioenskap-eindstryd, wat volgende Woensdag op Lord’s teen Australië begin. Die 38-jarige Broad sal glo volgende Maandag ‘n oefensessie van die Proteas bywoon, waar hy snelboulers soos Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en Marco Jansen onder hande sal neem. Die Proteas kom môre as deel van hul voorbereiding vir die eindstryd teen Zimbabwe te staan in Sussex.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-838-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-348-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte, die pas gekroonde 72ste Mej. Wêreld, Opal Suchata Chuangsri van Thailand, sê sy sal tydens haar heerskappy voortgaan met haar Skoonheid met ‘n Doel-projek, For HER. Die projek is ʼn borskankerveldtog wat op opvoeding, vroeë opsporing en bemagtiging fokus. Sy is die eerste Thaise vrou wat die Mej. Wêreld-titel wen. Chuangsri sê sy is vasbeslote om vrouegesondheid ʼn wêreldwye gesprek te maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….