Nuus 11:00
BULLETIN 2 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê 200-duisend deelnemers aan die Basiese Onderwys-werksgeleentheidprojek het begin werk
# Die DA eis ‘n Verdedigingsbedryf-lekgotla
# En, Karol Nawrocki is Pole se nuwe president
# President Cyril Ramaphosa sê die Basiese Onderwys-indiensnemingsprojek bring hoop en inkomste na plekke waar geleenthede gewoonlik min is. Sowat 200-duisend jong mense wat deel is van die vyfde fase, begin vandag in skole werk. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief hulle werk in die klaskamer laat onderwysers met meer tyd vir lesvoorbereiding en onderrig. Hy sê hierdie jong mense sal die skoolomgewing verlaat nadat hulle ‘n bydrae gelewer en ʼn verskil gemaak het.
# Die DA sê die minister van Verdediging, Angie Motshekga, se voortslepende versuim om ʼn lank beloofde lekgotla van die Suid-Afrikaanse Verdedigingsbedryf te belê, wek kommer aangesien die land se verdedigingsbedryf vinnig verswak. Die bedryf se inkomste het van 19,5-miljard-rand in 2016 gedaal tot 12,5-miljard-rand in 2020. Chris Hattingh van die DA sê hierdie lekgotla, wat reeds deur oudminister Thandi Modise voorgestel is, moes ʼn pad vorentoe berei vir die sukkelende sektor:
# Rand Water sê hy het sy groot instandhoudingswerk aan die B16-projek afgehandel en pompwerk by die Mapleton-stelsel in Boksburg, Ekurhuleni, het begin. Tydens die instandhoudingswerk wat Donderdag begin het, is pompkapasiteit by die Eikenhof-, Palmiet-, Mapleton- en Zwartkopjes-stelsels verlaag. Gebiede in Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane het ook lae waterdruk of tydelike wateronderbrekings beleef. Rand Water se woordvoerder, Makenosi Maroo, sê die toevoer sal nie onmiddellik normaal wees nie omdat die stelsel se vermoë eers moet herstel.
# Die konserwatiewe historikus Karol Nawrocki is Pole se nuwe president. Die 42-jarige Nawrocki van die regse populistiese party Wet en Geregtigheid, het 50,9-persent van die stemme verower, terwyl sy teenstander, die liberale kandidaat wat ten gunste van die Europese Unie is, Rafal Trzaskowski, 49,1persent van die stemme gekry het. Nawrocki, ‘n verdediger van tradisionele Poolse waardes, is ‘n ondersteuner van die Amerikaanse president, Donald Trump, en is hewig gekant teen die EU se klimaat- en migrasiebeleid. Nawrocki het onderneem om aborsiewette te verslap en konstruktiewe betrekkings met Europese vennote te verstewig.
# Gholf: Maja Stark van Swede het ʼn finale ronde van 72 aangeteken om haar eerste major titel op te raap met ʼn oorwinning van twee houe by die Amerikaanse Vroue-ope by Erin Hills in Wisconsin. Die wêreld-nommer-een, Nelly Korda van Amerika, en Rio Takeda van Japan deel die tweede plek op vyf onder. Hye-Jin Choi van Suid-Korea en haar landgenoot Mao Saigo, wat agtereenvolgende major-titels wou haal, deel die vierde plek met Ruoning Yin van China. Stark sê sy het nie gedink sy kan ʼn major-titel wen nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-347-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….