Nuus 08:00
BULLETIN 2 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC veroordeel die moord op die IVP-adjunkhoofsweep
# Die Solidariteit Navorsingsinstituut kritiseer die Wysigingswet op Billike Indiensneming
# En sokker: Pyramids klop Mamelodi Sundowns om die CAF Kampioeneliga-trofee te wen
#Die ANC het die moord op die adjunkhoofsweep van die IVP, Khethamabala Petros Sithole, veroordeel en wetstoepassers gevra om die skuldiges voor die gereg te bring. Sithole is Saterdagaand in Katlehong aan die Gautengse Oos-Rand doodgeskiet. Hy was lid van die Parlement se portefeuljekomitee oor Kommunikasie en Digitale Tegnologieë. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê Sithole se moord het die nasie van ‘n beginselvaste leier en ware patriot beroof wat mense saamgebind het:
# Die Solidariteit-navorsingsinstituut sê sy ontleding toon 111-duisend vroue en 70-duisend wit mans kan weens teikens vir gelyke indiensneming hul werk verloor. Die Wysigingswet op Billike Indiensneming het op 1 Januarie ingetree. Die wet stel die minister van Arbeid en Indiensneming in staat om numeriese teikens te stel vir gelyke verteenwoordiging van geskikte gekwalifiseerde individue uit aangewese groepe op alle beroepsvlakke. Die instituut se hoof, Connie Mulder, sê hierdie sektorteikens en streng sentrale regulering van arbeid in Suid-Afrika is blatante diskriminasie teen minderhede en groepe.
# Fezile Ngubane, wat aanvanklik een van drie verdagtes was in die moord op Olorato Mongale, sê hy was nog nooit by misdaad betrokke nie. Die 30-jarige Mongale is ‘n week gelede dood aangetref nadat sy as vermis aangemeld is ná ʼn afspraak in Johannesburg. Een verdagte wat met haar moord verbind word, Philangenkosi Makhanya, is Vrydag in ʼn skietery met die polisie dood. Ngubane, wat na ʼn ondersoek vrygelaat is, sê die voorval het hom geskok gelaat:
# Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, sê hulle doen alles moontlik om Rusland te oorreed om die oorlog te beëindig. Dit volg nadat Kiev gister grootskaalse hommeltuigaanvalle uitgevoer het op talle lugmagbasisse diep in Moskou, en verskeie vegvliegtuie uitgewis het. Onder die meer as 40 vliegtuie wat volgens berigte verwoes is, was Tu-95 en Tu-22 strategiese bomwerpers wat Rusland gebruik om langafstandmissiele op Oekraïnse stede af te vuur. Zelensky sê die operasie was ʼn briljante sukses en sê Oekraïne sal voortgaan om homself te verdedig.
# Sokker: Pyramids is die eerste keer as Afrika-kampioene gekroon nadat hulle Mamelodi Sundowns met 2-1 in die CAF-kampioeneliga se finale tweede deel geklop het vir ʼn saamgestelde 3-2-oorwinning in Kaïro. Fiston Mayele en Ahmed Samy se doele het Pyramids gehelp om by Al Ahly, Zamalek en Ismaily aan te sluit as die enigste Egiptiese spanne wat die CAF-kampioeneliga kon wen. Sundowns, wat die kompetisie in 2016 die eerste keer gewen het, se afrigter Miguel Cardoso sê hy is teleurgesteld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-908-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-304-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….