Nuus 08:00
BULLETIN 30 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile vra dringende hervorming om ‘n bekwame staat te skep
# Die DA eis dringende optrede teen oorgrensmisdaad aan die Lesotho-grens
# En, Rugby: Die Glasgow Warriors verydel die Stormers se hoop om die VRK-halfeindronde te haal
# Adjunk-president Paul Mashatile sê dringende hervorming is nodig om ‘n bekwame, etiese en professionele staat te skep. Hy het oor die versterking van die politiek-administratiewe raakvlak in Pretoria gesê onstabiliteit tussen politieke en administratiewe leiers belemmer vooruitgang. Mashatile het gevra vir die depolitisering van die staatsdiens, konsekwente leierskap en ondersteuning vir sake-ondernemings. Hy het gesê oorlogskamers gaan geskep word vir skoon bestuur, ekonomiese groei en die uitwissing van honger vir transformasie waarin mense eerste gestel word:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê pendelaargetalle in Kaapstad was in April verlede jaar op 53-duisend per dag, maar met die heropening van die Philippi- en Nolungile-stasies het die getal nou byna verdubbel tot op 104-duisend pendelaars per dag. Die doelwit is om die Kapteinsklip se tweede lyn teen die einde van die jaar te voltooi, waarna die aantal daaglikse pendelaargetalle na verwagting meer as 162-duisend sal bereik. Die getalle sal na verwagting teen April volgende jaar, wanneer die Sentrale Lyn weer in werking is, tot op 343-duisend per dag styg.
# Die DA eis dringende maatreëls om toenemende oorgrensmisdaad aan die Lesotho-Vrystaat grens aan te pak. Die DA-lid, Roy Jankielsohn, sê aanvalle, insluitend die wrede slagting van 18 beeste naby Wepener, kan met ‘n lae-intensiteit oorlog vergelyk word. Jankielsohn eis verbeterde wetstoepassing, die gebruik van meer tegnologie en ooreenkomste oor oorgrens-agtervolging. Hy waarsku landelike misdaad bedreig voedselsekerheid en boere se lewensbestaan:
# Rugby: Die Glasgow Warriors het die Stormers gisteraand met 36-18 in die Scotstoun-stadion afgeransel om hul plek in die halfeindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap te verseker. Glasgow het teen rustyd met 19-14 voorgeloop. Die Skotte het vyf drieë gedruk, terwyl die res van die punte van George Horn se skopskoen was. Seabelo Senatla het twee keer gaan druk, met Sacha Feinberg-Mngomezulu wat slegs een verdoel het en twee strafskoppe oorgeskop het. Vanmiddag om 13:30 pak die Bulle Edinburgh in hul kwarteindstryd op Loftus in Pretoria, terwyl die Haaie en Munster om 19:30 in Durban kragte meet.
# Motorsport: Die McLaren renjaer Lando Norris het gewys hy is weer slaggereed toe hy die rondetye van Red Bull se viermalige wêreldkampioen Max Verstappen in die eerste oefening by die Spaanse Grand Prix in Barcelona verbeter het. Lewis Hamilton, die sewemalige kampioen en sy Ferrari-spanmaat, Charles Leclerc was derde en vierde, voor die kampioenskapsvoorloper Oscar Piastri in die tweede McLaren, en die indrukwekkende nuweling Liam Lawson van Racing Bulls. Piastri is drie punte voor Norris in die renjaerskompetisie in die negende ronde van die 24 wedrenne van die seisoen.
# En ter afsluiting, twee rondloper leeus is in die veld naby Plange-Mtititi, aan die noordelike grens van die Krugerwildtuin in Limpopo gesien. ‘n Gemeenskapswoordvoerder, Isaac Khosa, sê veldwagters is ontbied, maar het die diere nog nie gewaar nie. Khosa waarsku plaaslike inwoners en veeboere om waaksaam te wees. Die leeus is laas in die bosse naby die Shangoni-hek gesien. Omgewingsowerhede het nog nie gereageer nie, terwyl die gemeenskap op hoë gereedheidsgrondslag bly vir potensiële probleme.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….