Nuus 18:00
BULLETIN 30 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie waarsku die publiek teen ‘n WhatsApp-bedrogspul met vals polisiebriewe
# Maatskappy-bankrotskappe daal met amper 15-persent in April
# En, ‘n VN-beampte sê Israel se blokkade maak Gaza ‘die hongerste plek op aarde’
# Die Suid-Afrikaanse Polisiediens waarsku die publiek oor ‘n bedrogspul waar vals briewe en oproepe gebruik word as komend vanaf die polisie. Die boodskappe word op WhatsApp versprei en maak gebruik van bestaande beamptes se name en kentekens om betalings vir vals misdaadsake te eis. Die polisie beklemtoon hy kommunikeer nie deur WhatsApp of video-oproepe nie. Die polisiewoordvoerder Amanda van Wyk het slagoffers versoek om hierdie voorvalle aan te meld en om nooit persoonlike besonderhede te deel of betalings te maak nie:
# Statistiek Suid-Afrika rapporteer ‘n daling van 14,8-persent jaar-op-jaar in bankrotskappe vir April. Bankrotskappe van beslote korporasies het met 12 gevalle gedaal, terwyl maatskappybankrotskappe met sewe afgeneem het. Onica Mushwana van Statistiek SA sê oor die drie maande tot einde April het bankrotskappe met 6,9-persent afgeneem, terwyl ‘n daling van ses-is vir die eerste vier maande van die jaar aangeteken is vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar:
# Volgens die Verenigde Nasies se Kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake, laat Israel slegs ‘n klein hoeveelheid humanitêre hulp toe om Gaza binne te gaan, met byna geen gereed-om-te-eet maaltye wat binnekom nie. ‘n Woordvoerder, Jens Laerke, sê slegs 600 van 900 vragmotors is gemagtig om by Israel se grens met Gaza uit te kom wat Gaza, volgens hom, “die hongerste plek op aarde” maak. Hy het gesê dit is meestal meel wat versprei word, maar dit moet steeds gaargemaak word. Laerke beklemtoon dat die totale bevolking van Gaza nou in hongersnood-gevaar verkeer.
# Rugby: Die Stormer skop die naweek se kwarteindstryde van die Verenigde Rugby-kampioenskap af met ‘n kragmeting teen Glasgow Warriors in Skotland. Die afskoptyd is half-nege vanaand op die Scotstoun-stadion. Môremiddag is die Bulle die gashere op hulle tuisveld in Pretoria teen nog ‘n Skotse span, Edinburgh. Die voorlopers op die punteleer, Leinster, pak die Scarlets om vieruur. Die Haaie rond die naweek se aksie af in Durban teen Munster. Afskoptyd is 6.30.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-284-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-285-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-56-sent per vat.
# En laastens, die polisie het ‘n man in Barcelona in hegtenis geneem wat beskuldig word dat hy skelm sy gesprekke met vroue in die straat verfilm het en die beeldmateriaal gebruik het om ‘n aanlyn kursus in “verleidingstegnieke” te bevorder. Beamptes het na bewering 239 geheime video’s op die verdagte se sosiale media-profiel ontdek, waarin vroue persoonlike besonderhede soos hul nasionaliteit, beroep of daaglikse roetine deel. Die beeldmateriaal het dikwels die vroue se gesigte duidelik gewys en is as promosiemateriaal op die verdagte se webwerf gebruik, waar gebruikers 60-duisend-rand moes opdok om in te skryf vir ‘n aanlyn kursus in “verleidingstegnieke”.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….