Nuus 16:00
BULLETIN 30 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pastoor Mark Burns beweer Donald Trump is mislei deur vals bewerings van wit volksmoord in Suid-Afrika
# Die Kaapstad-lughawe hanteer amper een-miljoen passasiers in April
# En, die Gautengse Wetgewer waarsku die publiek oor die gevare van afspraak-toepassings ná die Maboneng-misdade
# Pastoor Mark Burns, ‘n boesem-ondersteuner van die Amerikaanse president Donald Trump, het bewerings van ‘n wit volksmoord in Suid-Afrika weerlê en dit vals en gemanipuleerd genoem. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het Burns gesê Trump is mislei deur wit Suid-Afrikaanse groepe, insluitend AfriForum, wat onwettige grondbesetting en geweld oordryf het om vlugtelingstatus in die VSA te bekom. Hy het Suid-Afrika gewaarsku teen die gebruik van BRICS om die Amerikaanse dollar te ondermyn en het so ‘n stap as gevaarlik vir beide nasies beskryf:
# Die DA in die Wes-Kaap verwelkom ‘n toename in lugpassasiers, nadat die Kaapstadse Internasionale Lughawe byna een-miljoen aankomste in April aangeteken het. Meer as 700-duisend was binnelandse reisigers, terwyl internasionale aankomste met 17-persent jaar-op-jaar tot meer as 269-duisend gestyg het. George-lughawe het ‘n styging van 25-persent in passasiersverkeer ondervind. Noko Masipa van die DA sê die groei is te danke aan Wesgro se lugtoegang-span, met nuwe en uitgebreide internasionale roetes vanaf Zürich, Parys, Amsterdam en Londen wat toerisme ‘n hupstoot gee:
# Die Gemeenskapsveiligheidskomitee in die Gautengse Wetgewer waarsku die publiek om versigtig te wees as hulle vreemdelinge op afspraak-toepassings ontmoet. Dit volg na ontvoerings en aanvalle in Maboneng ontbloot is tydens ‘n onverwagte toesigbesoek aan die Jeppe-polisiestasie in Johannesburg. Die slagoffers, insluitend LGBTQIA+-individue, word ingelok en dan beroof of aangerand. Die komitee-voorsitter, Bandile Masuku, het die polisie se vordering met die Olorato Mongale-moordsaak verwelkom en versoek die publiek om te help om die ander verdagtes op te spoor en om waaksaam te bly:
# Turkye het voorgestel om ‘n vergadering tussen die Amerikaanse, Russiese en Oekraïnse presidente aan te bied in ‘n poging om ‘n einde aan die oorlog in Oekraïne te maak. Turkye, ‘n Navo-lid, het ‘n sleutelbemiddelaar geword te midde van die Amerikaanse president Donald Trump se druk vir ‘n ooreenkoms om die oorlog te beëindig. Die minister van Buitelandse Sake, Hakan Fidan, sê verwagtinge vir ‘n wapenstilstand en vrede het toegeneem. Hy vergader later vandag met die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky na hy vroeër vandeesweek met Russiese amptenare in Moskou ontmoet het.
# Rugby: Die Stormer skop die naweek se kwarteindstryde van die Verenigde Rugby-kampioenskap af met ‘n kragmeting teen Glasgow Warriors in Skotland. Die afskoptyd is half-nege vanaand op die Scotstoun-stadion. Môremiddag is die Bulle die gashere op hulle tuisveld in Pretoria teen nog ‘n Skotse span, Edinburgh. Die voorlopers op die punteleer, Leinster, pak die Scarlets om vieruur. Die Haaie rond die naweek se aksie af in Durban teen Munster. Afskoptyd is 6.30.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-476-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-303-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 62-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….