Nuus 07:00
BULLETIN 30 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile bevestig president Ramaphosa sal die datum vir die nasionale dialoog aankondig
# Die DA verwelkom die rentekoersverlaging as broodnodige verligting vir huishoudings
# En rugby: Twee Suid-Afrikaners is op die wedstrydbeamptepaneel vir die Onder 20-Kampioenskappe
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê president Cyril Ramaphosa sal binnekort die datum aankondig vir die nasionale dialoog wat daarop gemik is om Suid-Afrika se dringende uitdagings aan te spreek. Die dialoog sal die regering, die burgerlike samelewing, kerke, tradisionele leiers en politieke partye bymekaarbring. Mashatile het die Nasionale Raad van Provinsies toegespreek en gesê die nasionale dialoog is nie ‘n regeringsgeleide geleentheid nie, maar ‘n gesamentlike poging om die land in ‘n verenigde, inklusiewe samelewing te herbou:
# Die DA verwelkom die Reserwebank se rentekoersverlaging as noodsaaklike verligting vir sukkelende huishoudings. Die DA se woordvoerder oor Finansies, Mark Burke, sê egter dis geensins ‘n plaasvervanger vir langtermynhervormings nie. Burke bepleit verbeterde staatsbesteding, betrokkenheid vanaf die privaat sektor en minder rompslomp om volhoubare groei aan te vuur. Hy sê Suid-Afrikaners verdien ‘n regering wat blywende finansiële bestendigheid bied:
# Limpopo-polisie het ‘n ondersoek begin na die dood van ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag by Lulekani-township buite Phalaborwa. Die polisie sê die man is gisteroggend talle kere geskiet terwyl hy op pad was werk toe by die 7-SAI-bataljon in Phalaborwa. Vyf leë koeëldoppies is op die toneel gevind en die soldaat se besittings, insluitend sy selfone, was by hom. Die polisie sê die motief vir die moord is op hierdie stadium onbekend.
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, het die hofbeslissing verwelkom wat ʼn stokkie steek voor president Donald Trump se omvattende globale tariewe. ʼn Paneel van drie regters by die Amerikaanse Internasionale Handelshof het bevind Trump het sy gesag oorskry toe hy ʼn noodwet gebruik het om teen byna elke land tariewe te hef. Carney sê Kanada is lank reeds van mening die tariewe is onregmatig en ongeregverdig:
# Rugby: Die Suid-Afrikaners Griffin Colby en Quinton Immelman is ingesluit op die lys wedstrydbeamptes vir die komende Onder 20-rugbykampioenskap in Italië. Colby sal as wedstrydskeidsregter optree terwyl Immelman as televisie-wedstrydbeampte betrokke sal wees. Die paneel sluit tien skeidsregters en vyf televisiebeamptes in. Die wêreld se 12 beste spanne sal van 29 Junie tot 19 Julie in vier Italiaanse stede wedstryde speel. Suid-Afrika is in Groep A saam met die verdedigende kampioene Engeland, Australië en Skotland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 24-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-862-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-2-sent per vat.
# En ten slotte: Reik na ʼn Droom het die 14-jarige Sacha Willemse van Upington in die Noord-Kaap se droom ʼn werklikheid gemaak. Die talentvolle jong swemmer wat aan ʼn lewensbedreigende siekte lei, het onlangs sy sportheld, die Olimpiese gouemedalje-wenner Chad le Clos, in Kaapstad ontmoet. Dis vandag Pantoffeldag en Reik na ʼn Droom se bemarkingshoof, Ivor Cleary, sê met die publiek se skenkings kan hulle kinders met lewensbedreigende siektes se drome laat waar word:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….