Nuus 06:00
BULLETIN 30 Mei 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ntshavheni sê sekerheid sal opgeknap word tydens Trump se besoek
# Paul Mashatile onderneem om die publiek se vertroue te herwin
# En ‘n Mauritaniër is verkies as nuwe president van die Afrika-ontwikkelingsbank
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê sekerheid by die NASREC-eksposentrum in Johannesburg sal opgeskerp word tydens die Amerikaanse president, Donald Trump, se besoek aan Suid-Afrika vir die G20-leiersberaad in November. Sy sê hoëvlak beskerming is ook van toepassing op enige ander wêreldleier wat die beraad bywoon. Ntshavheni ontken bewerings dat Trump se teenwoordigheid op ‘n verskuiwing in Suid-Afrika se buitelandse beleid dui, en beklemtoon die VSA bly ‘n belangrike strategiese en handelsvennoot:
# Adjunkpresident Paul Mashatile dring daarop aan dat hy niks het om weg te steek nie. Hy sê hy het homself aan alle relevante toesighoudende instellings onderwerp te midde van voortdurende bewerings teen hom. In sy mondelinge antwoord op vrae in die Nasionale Raad van Provinsies het Mashatile bevestig dat hy al sy belange aan die Parlement en ook die ANC se integriteitskommissie verklaar het:
# Die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, verwelkom die lewenslange vonnisse wat aan Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn opgelê is vir die ontvoering en mensehandel verlede jaar van Smith se dogter, Joshlin Smith. Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap het bevind dat die drie geen berou getoon het nadat hulle Joshlin vir 20-duisend-rand verkoop het nie. Die woordvoerder van die Ministerie, Terrence Manase, sê die uitspraak, wat tydens Nasionale Kinderbeskermingsweek gelewer is, stuur ‘n sterk boodskap dat misdade teen kinders nie ongestraf sal bly nie:
# ‘n Personeellid van Laerskool Dalmondeor in die suide van Johannesburg is in hegtenis geneem vir die beweerde seksuele aanranding van ‘n graad 2-leerder. Die woordvoerder van die Gautengse Onderwysdepartement, Steve Mabona, sê haar ma beweer die kind is verlede Woensdag deur die algemene assistent in een van die skool se kleedkamers aangerand. Hy sê die ma het na wat berig word dieselfde dag ‘n saak by die Mondeor-polisiestasie geopen:
# Mauritanië se voormalige minister van Finansies, Sidi Ould Tah, is verkies tot die nuwe president van die Afrika-ontwikkelingsbank en gaan die onttrekking van Amerikaanse finansiering uit die instelling aanpak. Die wenner moes ‘n meerderheid stemme van al 81 lidlande verseker, asook ‘n meerderheid van die 54 Afrika-nasies wat deel van die bank is. Hy het in sy leierskapsveldtog belowe om finansiële instellings in die streek te versterk, Afrika se finansiële onafhanklikheid op globale markte te bevestig, bevolkingsgroei as ‘n ontwikkelingshefboom te gebruik en klimaatsweerstandige infrastruktuur te bou.
# Tennis: Wêreldnommersewe, Casper Ruud van Noorweë, beskryf die wêreldranglys as ‘n dolle gejaag. Hy sê dit lei daartoe dat spelers selfs met beserings aan verpligte toernooie deelneem. Die 26-jarige Ruud, wat twee keer die eindstryd van die Franse Ope gehaal het, is in die tweede ronde by Roland Garros deur die ongekeurde Portugese speler Nuno Borges uitgeskakel. Ruud sê sy kniepyn het sy beweging belemmer. Hy wys daarop dat spelers se jaareind-bonusse met 25-persent verminder word as hulle verpligte toernooie misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-971-dollar-80-sent. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….