Nuus 18:00
BULLETIN 29 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê die regering is verbind tot transformasie, grondhervorming en inkusiewe groei
# Die Belastingombud ondersoek eFiling-kubermisdaad te midde van toenemende klagtes
# En rugby: Feinberg-Mngomezulu dra die Stormers se nommer 10-trui in die VRK-kwarteindstryd
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is verbind tot transformasie, grondhervorming en inklusiewe groei. Hy het vrae beantwoord in die Nasionale Raad van Provinsies en sê wette soos die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging en die Onteieningswet moet ten volle ingestel word tot voordeel van voorheen benadeelde mense. Mashatile waarsku daar sal geen kortpaaie wees met die verandering van transformasiewette wat die Parlement goedgekeur het nie:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n oudregter van die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe, aangestel om ‘n geregtelike kommissie van ondersoek te lei na vertragings met ondersoeke en vervolging van misdade uit die apartheidsera. Die kommissie sal probeer vasstel of pogings aangewend is om in te meng met ondersoeke of sake te laat ontspoor wat die Waarheids- en Versoeningskommissie identifiseer het. Khampepe, regter Frans Kgomo en advokaat Andrea Gabriel is ses maande gegee om die werk te voltooi en geregtigheid en afsluiting aan slagoffers en hul naasbestaandes te bied.
# Die kantoor van die Belastingombud ondersoek ‘n toename in kapings van eFiling-profiele, waar kubermisdadigers belastingbetalers se rekeninge uitbuit om terugbetalings te herlei. Die ondersoek volg nadat talle belastingbetalers en bedryfsliggame gekla het en swakhede in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se digitale stelsels aan die lig gebring is. Die Belastingombud, Yanga Mputa, het met ‘n in-diepte-oorsig begin en die bevindings sal aan die minister van Finansies, Enoch Godongwana, verskaf word. Belastingbetalers word versoek om sekerheidsmaatreëls te verbeter en verdagte bedrywighede onmiddellik aan te meld.
# Vier polisie-lede het in die Stilfonteinse Landdroshof in Noordwes verskyn op aanklagte van regsverydeling en hulp met die ontsnapping van Neo James “Tiger” Tshwaeli. Die vermeende onwettige mynbaas het verdwyn nadat hy gered is uit ‘n mynskapg tydens die Vala Umgodi-operasie. Die beskuldigdes is elk op duisend-rand borgtog vrygelaat. Die saak is tot 8 Julie uitgestel vir verdere ondersoek.
# Rugby: Suleiman Hartzenberg en Dan du Plessis sal die Stormers se senterpaar wees terwyl die geskorste Damian Willemse afwesig is vir môreaand se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen Glasgow Warriors in Skotland. Sacha Feinberg-Mngomezulu en Stefan Ungerer is weer die skakelpaar met Herschel Jantjies en Manie Libbok op die bank. Evan Roos neem weer sy plek op agsteman in en kaptein Salmaan Moerat begin op slot saam met Ruben van Heerden. Afskoptyd is 8.35.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-79-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-169-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….