Nuus 17:00
BULLETIN 29 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank verlaag die terugkoopkoers met 25 basispunte
# Oudregter Sisi Khampepe gaan ‘n kommissie van ondersoek na apartheidsmisdade lei
# En rugby: Drie Suid-Afrikaanse spanne ondervind ‘n reuse-uitdaging in die kwarteindronde van die VRK
# Daar is goeie nuus vir skuldbelaaide Suid-Afrikaners. Die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers met 25 basispunte verlaag tot 7,25-persent. Dit beteken die prima-uitleenkoers word verlaag tot 10,75-persent.
# President Cyril Ramaphosa het ‘n oudregter van die Konstitusionele Hof, Sisi Khampepe, aangestel om ‘n geregtelike kommissie van ondersoek te lei na vertragings met ondersoeke en vervolging van misdade uit die apartheidsera. Die kommissie sal probeer vasstel of pogings aangewend is om in te meng met ondersoeke of sake te laat ontspoor wat die Waarheids- en Versoeningskommissie identifiseer het. Khampepe, regter Frans Kgomo en advokaat Andrea Gabriel is ses maande gegee om die werk te voltooi en geregtigheid en afsluiting aan slagoffers en hul naasbestaandes te bied.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê misdaad bly ‘n groot probleem. Sy sê hoewel moordsake verminder, is daar ‘n toename in seksuele oortredings, insluitend verkragting. Ntshavheni sê die kabinet loof die polisie vir die vinnige deurbrake in hoëprofiel geslagsgeweldsake, insluitend dié van die Wits-student Olorato Mongale. Sy het bygevoeg die regering beplan om weer gespesialiseerde polisie-eenhede in te stel en misdaadbestrydings-hulpmiddels en -opleiding te versterk:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die lewenslange vonnisse vir Kelly Smith, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn in die saak van Smith se jong dogter, Joslin, wat in Februarie verlede jaar aan die Kaapse Weskus verdwyn het. Die NVG se woordvoerder, Eric Ntabazalila, sê die beslissing van die Wes-Kaapse Hooggeregshof is ‘n ongewone, geskiedkundige skuldigbevinding aan mensehandeling vir uitbuiting. Hy sê die vonnis, wat in Kinderbeskermingsweek opgelê is, stuur ‘n kragtige boodskap om kinders se regte en beskerming voorop te stel:
Suid-Afrika se herdenking van Nasionale Kinderbeskermingsweek beklemtoon kinders se regte in die Grondwet en die Kinderwet. Die veldtog het sedert 1997 ten doel om bewusmaking te verhoog en mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting te stop. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal die week lei, met die ondersteuning van die burgerlike samelewing en die regering. Hierdie week sal poog om die beskerming van kinders ‘n gedeelde verantwoordelikheid te maak om die siklus van skade wat aangerig word, te beëindig.
# Rugby: Suid-Afrika se drie spanne in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap staan voor hul grootste uitdaging van die seisoen, met net oorwinnings wat goed genoeg sal wees om die voorlaaste ronde te haal. Die Stormers het waarskynlik die moeilikste taak wanneer hulle môreaand in Skotland speel teen die verdedigende kampioen, Glasgow Warriors. Die Bulle, wat Saterdag in Pretoria teen Edinburgh speel, en die Haaie wat in Durban teen Munster te staan kom, het die belangrike voordeel van tuiswedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-17-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-271-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-318-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….